As jy eers die kuns verstaan om jou eie speserymengsels vars te maal, sal jy gou agterkom jy het nie veel meer nodig nie. En ek praat nou hier van kuns, maar dis glad nie moeilik nie. Skaf net vir jou ‘n speserymeultjie aan.
As jy nie een kan kry nie, koop ‘n tweede koffiemeultjie en gebruik hierdie een net vir jou speserye. Moenie die een wat jy vir jou koffiebone gebruilk, vir jou speserye gebruik nie. Jou koffie gaan na speserye smaak en jy gaan beslis ‘n koffiegeurtjie in jou speserye optel.
Hierdie heerlike broskoekies (shortbread), met die regte laventelblommetjies (of roosmaryntakkies) gegeur, is vreeslik Europees… vreeslik Frans!
Dis baie maklik om te bak, net, soos met alle kleinkoekies, bietjie tydrowend om die ou goedjies netjies op die bakplate te kry. Maar dis heerlik terapeuties.
‘n Mens vertaal maar swaar aan brownies en die naaste wat jy daaraan kan kom in Afrikaans is seker bruintjies. Maar dit lê maar swaar op die tong. Dié lekkerny is vinnig besig om kolwyntjies te onttroon as die nuwe gier onder die wispelturige mode-eters.
Saam met roomys as ‘n dekadente nagereg, ‘n bederfie saam met ‘n koppie tee of sommer net so – net omdat jy kan. Maar die groot geheim van ‘n goeie brownie is om ‘n goeie sjokolade en die beste kakaopoeier te gebruik.
As jy al klaar jou lippe aflek vir die kondensmelkweergawe van ‘n suurlemoenmeringue, kan jy maar verbyblaai. Hierdie resep is nie vir jou nie. Die lekkerte van hierdie een is die skielike sitrus-skok wanneer jy deur die soet meringue byt.
Jy kan die gewone grootte (20 cm) maak, maar hierdie kleiner tertjies is so elegant en oulik vir die teetafel, selfs vir ‘n heerlik nagereg. Moenie kortpad kies nie – volg die metode vir die tertdoppies noukeurig en jy sal nie sukkel met tertdoppies wat windskeef trek of halfgaar onder die meringue skuil nie.
Niks kom by tuisgemaakte malvalekkers nie. Dis ’n liefdesfees op sy eie.
Lewer ongeveer 48 blokkies (afhangende van die grootte).
Op die oog af lyk die ou tertjie so doodgewoon – jy kyk sommer bo-oor hom. Veral as hy so tussen room- en meringueterte met oordadige byna Carmen Miranda-agtige vrugte-bolae staan.
Maar, soos buurvrou Claudia se Sean sê, dis die sexyste dingetjie wat nog uit Woodstock gekom het.