Geroosterde varkboud met lemoen

Dit behoort genoeg te wees vir 6, maar mik eerder vir 4 – dis groter bederf.

Jy het nodig:

1 varkboud, kleinerig van so om en by 1 – 1,5 kg
3 eetlepels olyfolie
‘n mengsel van sout en peper en droë organum
3 groterige uie, in dikkerige skywe gesny.
3 eetlepels botter
350 ml varsuitgedrukte lemoensap, deur ‘n sif gegooi
1 teelepel gerasperde lemoenskil
1 knoffeltoontjie
¼ teelepel rissievlokkies
¼ teelepel droë oreganum
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Só maak mens:

Maak snypatrone met ‘n skerp messie in die spekvel van die boud, maar wees versigtig om nie tot in die vleis in te sny nie. Ek gebruik ‘n matsnymessie wat ek uitsluitlik vir dié doel gekoop het en ek sny die vel vooraf al soos ek die boudskywe gaan sny. Dit maak vir my meer sin as diamantvormige patroontjies. Dan het jy sommer al jou stukkie krakeling aan jou skyf boudvleis wat jy vir die bord sny.

Meng ‘n bietjie sout en varsgemaalde peper met die mengsel van sout, peper en origanum. Vryf die boud eers met ‘n bietjie olyfolie in en volg dan met dié mengsel. Vryf dit ook tussen die gleufies wat jy in die spekvel gesny het in.

Plaas die boud in ‘n oondroosterpan wat net-net groot genoeg vir die boud is en rangskik die uieskywe rondom. Smelt die botter in ‘n kastrolletjie en voeg die lemoensap en -skil by, ook die knoffel, rissievlokkies, origanum en sout en peper na smaak. Giet die mengsel in die pan om die boud. Moenie dat die vloeistof aan die velkant bo raak nie.

Plaas die oondroosterpan in ‘n voorverhitte oond van 200⁰C en rooster vir 20 minute. Verlaag die hitte en rooster vir nog 1 uur tot 1 uur 10 minute. Laat die vleis vir minstens 15 minute rus wanneer dit uit die oond kom.

Sny in mooi skywe en bedien met die pansappe op rys of kapokaartappel.