Jack se koek

Moenie hierdie koek sommerso afskryf as doodgewoon nie. Die heerlike kombinasie van bourbon whisky, donkersjokolade en neute skep saam ‘n onvergeetlike smaaksensasie. Die bestanddele is ‘n bietjie aan die duur kant, maar dit maak enige geleentheid net soveel meer spesiaal.

Jy het nodig

Vir die koek
2 ¼ koppies koekmeelblom
2 ¼ teelepels bakpoeier
½ telepel sout
1 koppie (230 g) botter
2 koppies sagte bruinsuiker
4 eiers
½ koppie Jack Daniels Tennessee Whiskey
1 koppie gekapte pekan- of okkerneute
1 koppie melksjokoladesplinters

Vir die whiskey-glanssous
¼ koppie (57 g) gesmelte botter
2 koppies versiersuiker
100 ml Jack Daniels Tennessee Whiskey
1 teelepels vanielje-ekstrak

Só maak mens

Smeer ’n 25 cm ringkoekpan. Voorverhit die oond tot 180˚C. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam in ’n middelslag mengbak. Hou eenkant. Smelt die botter oor lae hitte. Haal van die hitte af en roer die bruinsuiker, eiers, meelmengsel en Jack Daniels om die beurt by en meng baie goed na elke byvoeging. Meng die neute en sjokolade en roer driekwart daarvan by die deegmengsel.

Giet dit in die ringkoekpan en sprinkel die res van die neute-en-sjokolademengsel bo-op. Bak vir 45 – 50 minute. Haal dit uit die oond en laat 10 minute lank in die pan afkoel voordat jy dit op ’n draadrak omkeer om heeltemal af te koel voordat jy die whiskeyglanssous bo-oor giet.

Vir die sous: Meng al die bestanddele saam in ’n bak. Roer goed met ’n houtlepel totdat die versiersuiker gesmelt is en bedruip die koek daarmee.