’n Trooskombers van rooi fluweel
Hulle het haar La Stupenda (Die Verstommende Een) genoem en Joan Sutherland het lank die rekord gehou vir een van die langste staande ovasies in die geskiedenis van La Scala, een van dié operapaleise in die wêreld.
Sy was nie mooi nie. “Nobody looked like Miss Sutherland”, het een musiekresensent dit diplomaties gestel. En sy kon glad nie toneel speel nie – sy sou nooit die wêreld kon meevoer soos ’n Callas nie. Maar wanneer sy daardie vierkantige kakebeen van haar gelig en begin sing het, het die engele stil geword.
Vir my was sy nog baie meer… ek het haar geken as die soet troosstem wat snags die donkerte en die bang besweer het wanneer ek my in ’n klein bondeltjie teen die onthou in ’n hoekie skuil gemaak het. En toe sy nou die dag dood is, het dit gevoel asof ek familie verloor het. Sy was 83 en het al dekades lank nie meer gesing nie, maar die onbeskryflikste gevoel van verlies het diep in my hart kom nesskop.
Toe ek ná my eerste nagmerriehuwelik en ’n egskeidingsgeding wat in ’n terreurveldtog ontaard het, weer moed bymekaar geskraap het en uit my ouerhuis na ’n klein woonstelletjie getrek het, het haar stem my snags aan die slaap gesus.
Ek het min gehad. Maar die draagbare kassetspeler en ’n kasset The World of Joan Sutherland was al wat ek nodig gehad het teen die nagmerries. Vandag het ek etlike opnames van haar wonderlike stem en daardie kasset het jare gelede al, voos gespeel, begin trek. Maar dis daardie een wat ek altyd sal onthou.
Dis vir haar wat ek hierdie tamatie-en-rooi-soetrissiesop geskep het – ryk soos haar stem en so vertroostend soos die klanke waarmee sy my deur die nagte gehelp het.