Rooifluweel-woepsies

Die storie loop dat woepsies begin het tot die Amish-vroue van oorskiet koekdeeg hierdie klein wonderwerkies gebak het om as klein bederfie in hul mans se kosblikke te pak wanneer hulle op die lande gaan werk het. Hulle sê die lekkernye het hul naam gekry omdat die manne ewe opgewonde “Whooppee!” uitgeroep het wanneer hulle die kosblikke oopgemaak en op die soetgoed afgekom het. In ons taal praat ons sommer van woepsies.

Rooifluweel-woepsies

Lewer 18 woepsies (twee op mekaar)

Vir die woepsies
2⅓ koppies koekmeel
2 eetlepels kakao, gesif
2 teelepels bakpoeier
½ teelepel koeksoda
100 g sagte botter
1 koppie strooisuiker
1 eetlepel rooi voedselkleursel
2 teelepels vanielje
2 eiers
175 ml karringmelk
1 teelepel appelasyn

Vir die versiersel
4 koppies versiersuiker, gesif
½ van ‘n 240 g houer roomkaas
125 g sagte botter
1 teelepel appelasyn
ekstra versiersuiker vir strooi

Sif die koekmeel, kakao, bakpoeier en koeksoda saam in ‘n bak. Klits die botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Roer die voedselkleursel en vanielje by. Voeg die droë bestanddele om die beurt met die eiers by die bottermengsel. Klits die karringmelk en asyn by tot goed gemeng. Skep ‘n eetlepel van die deeg in elk van die gaatjies van drie 12 gat-pattipan-pannetjies en bak vir 12 minute in ‘n voorverhitte oond van 170ºC. Haal die woepsies versigtig op ‘n draadrak uit om heeltemal af te koel. Maak die versiersel: Klits die versiersuiker, roomkaas en botter saam. Voeg die appelasyn by en klits om ‘n lekker gladde mengsel te maak. Smeer aan die onderkante van die woepsies en plak twee-twee op mekaar. Sprinkel versiersuiker oor.