Dankiesê-potjie

Vandag voel vir my soos ‘n propperse dankseggingsdag. Eintlik wou ek so ‘n bietjie bene in die lug gelê en die gevoel behoorlik laat insink het. Maar voor ek my kon kry, bring ek offerandes in die kombuis terwyl ek Callas afwissel met Netrebko en Villazón.

Ek kook kweperstukke, maak koejawelblatjang en koejawels in speserystroop. En ek kook ‘n bredie van hoenderboudjies met appel, appelbier, aartappel, tiemie en prei – regte dankie-sê-kos.

Ek sê dankie vir die reën, maar ook vir die flertse sonskyn wat die gemoed so ‘n bietjie lig. Dankie vir my rondloperkat, Sagrys, wat soos ‘n wafferse skelm minnaar ‘n paar kosbare uurtjies uit sy jagekskapades afknyp vir troeteltyd saam met my. En ek kan nie genoeg dankie sê dat ek Mei-maand oorleef het nie.

‘n Mens kry mos altyd daardie één maand in die jaar wat dit voel asof jy in ‘n betonmenger beland het. Nog al die jare het ek geglo dis April – seker maar gebreinspoel deur T.S. Elliot se “April is the cruelest month. . . “ en die ysvingers van die winter wat al in my nek begin vroetel.

Maar hierdie jaar was dit beslis Mei . . . Ek het hier reg aan die begin van Mei vertel van hoe die arme Maswazi ontvoer en besteel is en hoe die polisie van Vishoek hom eerder in die selle gegooi as gehelp het. Toe is dit Sagrys met bosluiskoors, ek met bronchitis gevolg deur ‘n snotneus-verkoue (ja, in daardie onsinnige volgorde) en toe ‘n geskeurde armspier. My kook- en tikarm.

En dit was juis in dié maand wat ek my van alles en almal moes afsonder sodat ek die manuskrip vir my eerste kookboek betyds by die uitgewer kon lewer. Afsonder, ja, maar Kuier se kosfotosessies het nie agtergebly nie en ek moes my kopiespertye vir die tydskrif haal. Die winkels kon ook nie sonder hul baksels Romany Creams nie.

In die afsondering kon ek my nie afsny van my familie se probleme nie. Ek moes  ook besin oor ’n jarelange verhouding.

Dit was rof, ja, maar ek het ook die kosbaarste lewenslesse geleer.

Met Maswazi se krisis het ek besef hoe maklik dit eintlik is om te gee, maar hoe ontsettend moeilik om met grasie te ontvang. Wat eindelik vir my die deurslag gegee het, was die vraag of ek die reg het om namens hom “nee” te sê.

Ek sê dankie vir engele soos Sam Woolidge, Bettina Erbe, Anna-Louisa Ackerman, Paige Nick en Helen White Gilbert.

En dis ook elke wonderlike boodskappe van simpatie en bemoediging wat vir my en Maswazi weer gewys het hoe mooi die lewe en hoeveel goedheid daar eintlik in mense is. Baie, baie dankie.

Maar so met die boodskappe saam het daar vir my nog ‘n openbaring gekom. Ek het ‘n bietjie skaam gekry vir almal wat my prys omdat ek Maswazi van die straat af ingeneem en ‘n nuwe lewe gegee het. Ek wonder baiekeer wie dit nou eintlik is wat vir wie gered het. Ek dink ek het hom nodiger gehad as hy vir my – ek is op my gelukkigste wanneer ek vir iemand kan sorg. Die jong Xhosa-man het weer sin en betekenis aan my lewe gegee.

Met die afsondering en sit en skryf, het ek weer besef waar my liefde lê. Dit was harde werk, ja, maar met elke resep wat ek neergepen het, het die lewe weer terug in my are gevloei.

Ná al die jare voel ek nog soos ‘n dogtertjie wat per ongeluk in haar ma se kombuis beland het en eintlik nie daar hoort nie. Met elke resep het my selfvertroue gegroei en ek het met genoegdoening teruggekyk op ‘n lewe in die kombuis – my eie.

Dis ook daar waar ek weer perspektief op die lewe gekry het, op vriendskappe wat werklik saak maak. En ‘n verhouding het weer nuwe lewe gekry.

Ek sê dankie.

En ek kan nie aan ‘n beter manier dink om uiting aan my dankbaarheid te gee as juis met hierdie lekker aardse hoenderbredie met appel en tiemie nie.

Hoenderboudjie-en-preibredie met appel en tiemie

Genoeg vir 4

3 eetlepels olyfolie
3 middelslag uie, fyngekap
3 mollige knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 x 3 cm knoets, vars gemmer, fyngekap of gerasper
1 rooi brandrissie, saadjies en naatjies verwyder
12- 16 hoenderboudjies
1 groot of 2 kleiner appels, geskil, stronk verwyder en in stukke gesny
6 – 8 middelslag preie, goed skoongemaak en wit gedeeltes in ringe gesny
1 koppie appelbier
¼ koppie hoenderaftreksel
sout en varsgemaalde witpeper na smaak
gerasperde skil van 1 suurlemoen
‘n handvol vars gekapte tiemie
4 – 6 middelslag aartappels, geskil en in groterige blokkies gesny

Verhit die olie in ‘n swaarboompot en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, gemmer en brandrissie by en braai nog ‘n minuut of twee. Plaas die hoenderboudjies in die pot en braai saam met die uiemengsel totdat die hoender ‘n kleurtjie begin kry. Voeg die appel en prei by en laat vir ‘n paar minute prut voordat jy die aftreksel en appelbier byvoeg. Geur met sout en peper, suurlemoenskil en tiemie. Verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 10 minute prut voordat jy die aartappels byvoeg en vir nog 20 minute laat prut. Die hoender behoort gaar te wees, die aartappels sag en ‘n lekker dikkerige sous in die pot. Proe en geur met sout en peper na smaak indien nodig. Vir hierdie potjie het jy ‘n snytjie brood of twee nodig om daardie lekker sousies mee op te vee.

ShareShare on FacebookTweet about this on TwitterShare on Google+