Soetmosterd en spontane kuiers
My kombuis neem my op die wonderlikste kosreise. En langs die pad, kan ek maar seker weet, dek ek ‘n tafel vir ‘n paar reisgenote.
Soos nou die dag toe my botteltjie liekeriesgeursel eindelik die laaste druppeltjie geskink het. Die Lindt Chocolate Studio voer nie meer dié geurselreeks uit Frankryk in nie en ek het die mense by die mark nou al gewoond gemaak aan my liekeriesmalvalekkers. Daar is so ‘n handjievol klante wat spesifiek daarvoor kom soek en ek kan hulle nie met een van die ander geure verlei nie. Met dié geurselkrisis in my kombuis, het ek nie ‘n keuse gehad nie – ek moes in die pad val om alternatiewe te gaan soek.
Ek is vroeg weg Waterfront toe. Ek is mal daaroor om op ‘n Sondagoggend skuins voor nege daar rond te dwaal. Dis soos ‘n orkes wat opwarm, al die instrumente in disharmonie, soos elkeen die regte noot soek voor die dirigent inloop en almal saamtrek in glorieryke klanke.
By die restaurante met buitestoepe word daar tussen die tafels gevee en die stoele word mooi reggesit, skoon tafeldoeke oorgegooi en sout en peperpotte gevul. Aan die binnekant van die winkels kan jy sien hoe die personeel vir oulaas nog rondskarrel vordat die deure oopgesluit word. En oral die ongelooflike gevoel van afwagting voor die dag begin.
My soektog daar het nie veel opgelewer nie en ek is toe maar Groenpunt toe om daar in Giovanni’s se kleurvolle oorvol rakke te gaan rondsnuffel. Ek het niks gekry nie, maar die bestuurder het belowe om vir my die liekeriesgeursel te bestel. Ek koop toe maar my gewone voorraad wonderlike Fabino koffie en Giovanni wors – Toulouse, Siciliano, Salsiccia.
En toe die Sondagmiddagvaalte my beetpak, sit en wonder ek watter soort worsie ek moet gaarmaak. Met dié worsie, dink ek so by myself, kan ek nie winkelbrood eet nie. Ek trek toe maar die steengemaalde meel nader om my gewone broodjie te bak. Hmmmm . . . winkelmosterd sal ook nie deug nie. Toe maal ek maar mosterdsaadjies en maak ‘n lekker soetmosterd.
Die mosterd het nog staan en afkoel en die brood was halfpad deur gebak, toe kry ek ‘n sms en voor ek die worsies onder die oondrooster kon uithaal, sit hier twee vriendinne saam met my. ‘n Lekker spontane kuier om ‘n onbeplande tafel.
Hier is die resep vir die soetmosterd. Ek haat ‘n mikrogolf en gebruik myne slegs om klein hoeveelhede sjokolade of botter te smelt. Maar vir hierdie resep werk dit uitstekend.
3½ eetlepels geelmosterdsaadjies, fyngemaal (of dieselfde hoeveelheid matige mosterdpoeier)
¾ koppie suiker
2 teelepels koekmeelblom
‘n knippie sout
4 eiers, geklits
1 koppie wit asyn
Meng die mosterdpoeier, suiker, koekmeelblom en sout goed saam. Voeg die geklitste eiers en asyn by en meng. Kook in die mikrogolf en roer na elke minuut totdat die sous dik genoeg is. Skep in flesse terwyl dit nog warm is.