Nazeem se kabeljou
Van die fliektonele wat my die lekkerste kielie, is dié van No Reservations wat tussen Kate (Catherine Zeta Jones) en haar sielkundige afspeel. (Eintlik hou ek meer van die oorspronklike Duitse prent, Bella Martha, maar die Hollywood-weergawe het my glad nie teleurgestel nie.)
Want dis presies hoe met my en my sielkundige is – dis nie lank nie of die gesprek gaan oor kos. Dit kan ook nie anders nie – sy is ‘n Jungiaanse ontleder wat baie waarde heg aan drome. Die meeste van myne het iets met kosmaak te doen of speel af op eksotiese en kleurvolle kosmarke. En ek het ook al, nes die fliekkarakter, van my lekkerste happies ingepak om met haar te deel.
Dit was my sielkundige wat vir my van die groenteman daar in die doodloopstraatjie aan die bopunt van die Kloof vertel het. Hy trek Dinsdag- en Vrydagmidddae sy bakkie daar en verkoop die wonderlike vars groente en vrugte wat hy self met die hand op die mark uitsoek.
En dis hoe my vriendskap met Nazeem begin het.
Eers was dit maklik want my woonstel was net ‘n klipgooi van die Kloof. Maar toe ek hier na Rhodes se laan trek, het dit moeiliker geword om gereeld by Nazeem se bakkie te gaan koop. Ek het die een dag vir hom gevra om vir my lemmetjies op die mark te kry, maar kon nie my draai kry om dit by hom te gaan optel nie. Toe ek hom agterna om verskoning vra en hy hoor ek bly nou in Woodstock, het hy onmiddellik aangebied om, met die verbyry op pad huis toe, my groente en vrugte vir my te kom aflewer. Nou sms ek Vrydagoggende my lysie vir hom en Vrydagaand, tussen ses en sewe, lewer hy my kosbare vraggie af.
Elke jaar met Eid, bring hy vir my van die wonderlikste koekies. Hy wag mooi totdat die een skoonsuster tyd het om te bak voor hy sy bestelling vir haar gee. Want, sê hy, die ander skoonsuster is lief en dierbaar en baie gewillig, maar sy bak glad nie so lekker nie. En dis ook van die baasbaksterskoonsus wat hy af en toe vir my die heerlikste vars samoesas bring – net reg vir vinnig diepbraai en voorsit.
En as Nazeem eers lostrek en begin praat, kan jy maar weet. Ek is saam met hom deur sy pa se siekbed en uiteindelike dood in die hospitaal. Ek het sy pa ook by die groentebakkie leer ken. Hy skinder kopskuddend oor sy skoonsusters, maar praat ook met groot waardering van hoe hulle hom, die losloper-broer, bederf. En ek hoor gereeld vandie broers se visvangeskepades.
Nou kyk, dié is ‘n groot storie. Dit was die één Sondag-uitstappie waarna sy pa, toe hy nog geleef het, met sy hele wese uitgesien het. Nou gaan die broers nog gereeld, maar die ongeskrewe reël is – as een van die broers nie kan gaan nie, bly die ander ook. Dit lei gewoonlik tot ‘n bietjie van ‘n stryery en Nazeem skinder agterna by my, maar hulle bly by die reël. En die broers raak baie ongelukkig as Nazeem saam met ander, sy eie vriende, in hul waters gaan vis.
En so met die visstories belowe Nazeem om vir my ‘n ietsie van die Sondag-vangs die Maandagmôre te bring. Toe my deurklokkie lui, staan hy daar met die blinkvet kabeljou, mooi skoongemaak sommer daar op die strand en met seewater afgewas. Varser kry jy nie. Ek het alles net so gelos en die vis vir my, Zuki en Maswazi gaargemaak en ons het met heilige respek by die tafel gaan aansit.
Nou kyk, jy bederf nie die smaak van so ‘n vissie deur enigiets anders wat dit kan oordonder nie. Nee, hierdie een soek om alleen die kollig te steel.
1 vars kabeljou
1 groot ui, in skywe gesny
6 eetlepels sagte botter
1 klein knoffeltoontjie, fyngekap
2 eetlepels gekapte vars pietersielie
gerasperde skil en sap van een suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
½ koppie droë witwyn
Sny die groot graat wat in die lengte van die vis deur loop, versigtig uit met ‘n skerp messie en ‘n skêr. Voer ‘n oondbak met foelie, rangskik die uieskywe daarin en plaas die vis bo-op. Meng die botter met die knoffel, pietersielie, gerasperde suurlemoenskil en sout en peper en smeer mildlik aan die binnekant van die vis. Smeer ook bo-op met die bottermengsel. Sprinkel die suurlemoensap bo-oor en giet die wyn langsaan. Bak die vis nou so oop in ‘n voorverhitte oond van 180⁰C vir ongeveer 20 – 30 minute (afhangende van hoe plomp jou vissie is!). Bedien saam met heerlike varsgebakte brood en slaai.