Die groot gemis
Ek het nie met varkvleis grootgeword nie. My ma het dit nooit vir ons voorgesit nie, behalwe miskien vir so ‘n verdwaalde varkworsie af en toe. En spek, natuurlik.
In my oupa se huis op Prins Albert is die driegangmiddagmaal, elke dag, met die slag van die koperghong aangekondig. Die tafel was altyd gedek. ‘n Gestyselde wit tafeldoek onder ‘n deursigtige plastiekkleedjie met die mooiste patrone waaraan ek my kleintyd kon verstom. Die gestyfde wit servette het soos soldate op aandag gestaan.
Die spyskaart was altyd dieselfde – sop, twee soorte vleis, groente en nagereg. Maar nooit varkvleis nie. Soggens met ontbyt, ja,’n paar repies spek. Dis al.
Die enigste kennismaking wat ek daarmee gehad het, was by die buffet-etes Sondae by die Holiday inn. Die hotelgroep was toe nog ‘n nuwigheid waaroor almal opgewonde geraak het. Vir groot bederf en verjaardae het my pa ons ná kerk in die kombi gelaai en ons, nog so met ons kerkklere aan, na die nuwe Holiday Inn in Bellville geneem. (Daardie dae het jy nog aangetrek wanneer jy na sulke plekke gegaan het.)
My broer het byna altyd ‘n maat saamgeneem vir versterking en saam het hulle die hotelbase laat wonder oor die wysheid van hul uitnodiging om almal te laat skep soveel as wat hulle wil hê. Met die terugryslag was my pa baie opsetlik en het die kombi met sy swak skokbrekers oor elke denkbare hobbel en bult in die pad laat wip. Boet en maat het kreunend geprotesteer, maar dit het hulle niks gehelp nie.
Ek was gewoonlik op die een of ander tienerdieet en het my pa half kwalik geneem oor die versoeking op die tafels voor my. Maar dit was altyd die sagte, geurige wit skywe vleis wat my tot vandag toe die hotelkos sal laat onthou.
Dit het my baie kookjare geneem voordat ek self varkvleis begin gaarmaak het. Maar nou kreun my tafels onder die oordaad van varklies met krakeling, varkneksteaks of ‘n heerlike Kreoolse slaai, mango-en-papajablatjang met varkfiletskywe wat in sitrus gemarineer is.
En dan is daar natuurlik die varkboud…
Varkboud is op sy lekkerste as hy sonder fieterjasies gaargemaak word. Hoe eenvoudiger, hoe beter. Maar ek eksperimenteer tog soms met subtiele geurskakerings.
Foto: www.getaway.co.za