Wittebroodwonderwerkies
Ek neem baie swaar afskeid. Ek sukkel om finaal totsiens te sê vir geliefdes – mens en dier – wat ek aan die dood afgestaan het. My huis is vol klein altaartjies wat vir die afgestorwenes opgerig is (as jy nie weet waarvoor om te kyk nie, sal jy dit nie sommer raaksien nie – so mal is ek darem nou nie regtig nie!)
Ek rou lank oor verhoudings wat ‘n stille dood gesterf het. Ek het hopeloos te lank in huwelike gebly, self lank nadat ek besef het dit kan nie werk nie. Ek raak stil in vriendskappe wat lankal nie meer die naam werd is nie.
Toe ek ‘n paar jaar gelede ‘n nuwe stoof moes kry, het ek weke lank getreur oor die oue. Mense dink waarskynlik ek is nie heeltemal lekker in die kop nie – al die gedoente oor ‘n stoof. Maar dis nou maar hoe dit is – ek is obsessief oor kook en ‘n stoof speel ‘n groter rol as ‘n man in my lewe.
Die routyd was gelukkig van korte duur en ek het en die nuwe een, wat my hele kombuis wydsbeen vol staan, het mekaar gevind. En toe my huisbaas my voëlnessie teen die berg verkoop en ek ander blyplek moes soek, het ek net twee vereistes gehad: My kat moet daar gelukkig kan wees en daar moet plek wees vir my stoof.
Toe kry ek boonop as pasella al die dinge wat ek in my ou blyplek geniet het en méér. Maar die afskeid en die trekkery was steeds traumaties. Ek het in die tien jaar daar aan die voet van Leeukop baie dinge beleef – liefde, hartseer, afskeid…
Ek het aan ‘n nuwe geskiedenis begin skryf – hier aan die ander kant van die berg in Rhodes se laan.
Hierdie wonderlike Witsjokolade-en-pimperneutkolwyntjies wonderwerkies was een van die heel eerste resepte wat ek in my nuwe stoof gebak het. En met hierdie nostalgiese terugblik, deel ek dit graag.