Beskuit vir ‘n blitsontbyt

Ek onthou die suurdeegbeskuite wat ons kleintyd saam met oggendkoffie aan my ouma se blougeverfde geelhouttafel (!!!!) in die kombuis langs die ou houtstoof sit en eet het.

Ek is mal oor lekker beskuit, maar ek kou dit net so droog en sluk die koffie agterna. Ek haat dit om sawwe beskuitkrummels onderin my koffiekoppie te hê en kan dit nie oor my hart kry om ‘n stuk beskuit in daai kosbare oggend-skop te doop nie.

Karringmelk bly my gunsteling, die ongesonde spierwit een. Maar ek sal glad nie nee sê vir die gesonde nefie met die growwigheid en al daai heerlike sade in nie.

Jy het nodig

1 kg bruismeel
1 koppie suiker
1 koppie volkoringmeel
½ koppie volkoring Pronutro-ontpytpap
1½ koppie gemengde sade (jy kry wonderlike saadmengsels by die supermark of by gesondheidswinkels)
1 eetlepel bakpoeier
1 teelepel sout
2 eiers, liggies geklits
2½ koppies karringmelk
400 g gesmelte botter, gesmelt en afgekoel

So maak mens

Plaas al die droë bestanddele in ‘n groot mengbak, meng goed en maak ‘n gaatjie in die middel waarin jy die karringmelk, geklitste eiers en gesmelte botter gooi. Roer nou totdat alles goed gemeng is. Neem drie gesmeerde middelslag broodpannetjies en verdeel die mengsel gelykop. Maak dit mooi gelyk bo-op en bak in ‘n voorafverhitte oond van 180˚C vir ongeveer 45 minute of tot goudbruin. Wanneer jy ‘n metaalpennetjie insteek, moet dit skoon uitkom. Laat dit vir vyf minute afkoel voordat jy dit op ‘n draadrak uitkeer en heeltemal laat afkoel voordat jy dit eers in skywe van ongeveer 20 mm en daarna in netjiese vingers sny. Pak die vingers so ‘n paar millimeter uitmekaar op bakplate en droog in ‘n baie koel oond (60 – 70˚C) vir ongeveer 6 – 8 uur of oornag. Gebruik ‘n houtlepel om die oonddeur effe oop te hou sodat die klammigheid kan ontsnap terwyl die beskuite droog. Die resep lewer ongeveer 120 beskuite en kan tot ‘n maand lank hou in ‘n lugdigte houer. As jy ‘n groter hoeveelheid beskuit op ‘n slag wil bak, maak dit eerder in sarsies aan sodat jy dit makliker kan meng. Moenie meer as die hoeveelhede hierbo op een slag probeer aandurf nie.