My lang geskiedenis met beskuit

My ma hou van ‘n stukkie growwe beskuit in die oggend. Dan hoef sy nie tot ontbyt te wag om haar pille weg te sluk nie. Wanneer sy by haar huis is, koop sy sommer ‘n pakkie by die tuisnywerheid. Maar wanneer sy hier by my kom kuier, sorg ek dat ek ‘n baksel van haar gunsteling in die oond het.

In die winter van 2013 was dit ook so . . . Die tyd het my ‘n bietjie ingehaal en die beskuitblikke was nog leeg met my ma se aankoms. Ná ‘n lekker eerste dag saam, het ek die mengbakke nadergetrek en met mening begin bak. Die hele huis het daardie aand geruik na saadbeskuit wat in die oond uitdroog.

Baie vroeg die volgende oggend – my ma word al voor ligdag wakker – het ek varsgemaalde koffie gaan maak en ‘n paar stukkies van die beskuit, nog warm van die droog in die oond, saam met die beker koffie op ‘n skinkbordjie gesit.
Toe ek by die kamerdeur inkom, besef ek daar is fout. My ma probeer glimlag en praat, maar die woorde sukkel om sin te maak. Ek probeer kalm bly en maak asof niks fout is nie. Met ‘n flou verskoning vlug ek kamer toe en gaan bel my huisdokter.

Die gebeure wat daarop gevolg het, is nou net vae herinneringe – ‘n week in intensief, weke en maande van herstel agterna. Sy het gelukkig baie min oorgehou, maar ek sit nou met ‘n onredelike vrees en vreemde bygeloof. Wanneer my ma kom kuier, koop ek eerder winkelbeskuit as om self te bak.

Nou, met oujaar, besluit ek om nuut te begin en ou vrese te besweer. Die beskuitbakkery was nommer een op my lysie. Ek moet erken ek het half wakker geslaap en probeer luister of my ma nog asem haal in die kamer langsaan terwyl die beskuit deurnag in die oond gedroog het.

My ma is nog hier. Sy geniet elke happie van daardie stukkie saadbeskuit in die vroegggendkoffie gedoop. En ek het weer onthou van die lang pad wat ek al met beskuit geloop het . . .

Toe ek op universiteit was en in die koshuis gebly het, was die gewilde kuierplek saans by die een wat lekker beskuit van die huis af gekry het. Ek het in ‘n stadium uitgegaan met ‘n honneurs-fisika-student wat hopeloos te slim was en wie se idee van ‘n lekker naweek-afspraak was om saam in die Fisika-gebou te gaan sit en swot. Ek was eerstejaar en dit was beslis nie my idee van pret nie. Veral nie wanneer die geur van bloureën en jasmyn swaar in die lug gehang het nie . . .

Maar die man was baie mooi, lank en donker, en boonop het sy ma vir hom ‘n hele 10 liter plastiekemmer vol beskuit saamgestuur wat hy met groot seremonie by my aangedra het met die opdrag om te hou vir wanneer hy by my kom koffie drink (wat baie gereeld was). Nodeloos om te sê, ek was die gewildste meisie in die koshuis en toe ek hom die dag die emmer in die hand stop en die deur wys, was daar aansienlik minder beskuite oor. Teen daai tyd was ek so gatvol vir die slimme meneer dat ek nie eens skuldig gevoel het nie.

Ons ou boerenasie het ‘n lang geskiedenis wanneer dit by beskuite kom. Trouens, biltong en beskuit is so deel van ons kultuur as wat Coca-Cola en Pepsi nou van die wêreldkultuur is.

Volgens H.W. Claassens in Die Geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806, kom die woord beskuit uit die Frans wat “twee keer gebak beteken”. Die woord het inslag gevind en is gekies bo die dialektiese Nederlandse woord, tweebak. Dit was eintlik nie so snaaks dat hulle die Franse woord gekies het nie. Die meeste Nederlanders was daai tyd Frans magtig. Frans was gedurende die vorige eeu die amptelike taal van Holland. Trouens, die heerser van daai tyd, Willem die Swyger, se huistaal was Frans.

Claassens vertel dit het alles begin toe die Franse hul soldate oorlog toe gestuur het met ‘n slopie van dié goed – biscuit de guerre, het hulle dit genoem. Dit was sulke regte klinknael-beskuite (soos die goed wat my ma gebak het wanneer sy geweier het om by die resep te hou), “haas oneetbare beskuit van meel en water”, aldus Claassens. Ek stel my voor as die soldate onder mekaar stry gekry en hulle mekaar met dié goed getakel het, kon hulle net sowel op die slagveld gewees het.

Die VOC se skeepsbeskuite was nie veel beter nie. Claassens haal Peter Kolbe (Naauwkeurige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop) aan. Dié goed was glo so hard dat ‘n mens dit “naauwlyks met de tanden kan meester worden”.
En toe die tantes saam met Jan van Riebeeck op daai skip klim en die eerste keer van daai beskuite proe, het hulle met ‘n tongklik al begin dink hoe hulle, wanneer hulle weer aan wal kom, hul hande in die deeg gaan steek en daai ou reseppie gaan verbeter.

Maar dit sou ‘n hele paar jaar neem. Volgens Claassens was onse Jan en sy mense vir ‘n hele paar jaar aangewese op “hartbrood”, die gedroogde brood wat deur die skepe daar aangebring is. Partykeer was dit so muf wanneer dit daar afgelewer word, dat dit sommer dadelik vir die varke gevoer is. Dis nou volgens die inskrywings in Jan se dagboek.
Die tantes was toe al meer as keelvol. En teen die tyd dat die eerste twee beskuitresepte in De Volmaakte Hollandsche Keukenmeid van 1761 verskyn (aldus Claassens), toe was die tantes hier aan die Kaap al vlytig aan die bak – lank voor die gepubliseerde ou reseppies – en die matrose het behoorlik bakhand gestaan vir slopies van daai bederfies. Ook die reisigers wat die lang verkenningstogte na die binneland moes aanpak.

“ . . . versoeke is meermale tot die burgers gerig om beskuit aan vlote te lewer. Op 25 April 1740 is alle ingesetenes van die Kaap byvoorbeeld gevra om aan goewerneur Swellengrebel te rapporteer hoeveel beskuit hulle in die volgende week aan die Engelse vloot sou kon lewer. Toe die inwoners van die Kaap op 4 Maart 1760 met ‘n plakkaat verbied is om enige gebak aan die Franse vloot te lewer, was daar na raming reeds dertigduisend pond beskuit verkoop.” (H.W. Claassens, Die Gekiedenis van Boerekos 1652 – 1806)

Ek onthou die suurdeegbeskuite wat ons kleintyd saam met oggendkoffie aan my ouma se blougeverfde geelhouttafel (!!!!) in die kombuis langs die ou houtstoof sit en eet het. Karringmelk bly my gunsteling, die ongesonde spierwit een. Maar ek sal glad nie nee sê vir die gesonde nefie met die growwigheid en al daai heerlike sade in nie.

Die een waarvan my ma so baie hou.