Bobotiefrikkadelle

Ek is baie lief vir bobotie. My mense ook. Maar ek het ‘n bietjie moeg geword om dit elke keer op dieselfde manier voor te sit. En met die kookkompetisie op hande, was dit tyd vir ‘n splinternuwe aanslag op ‘n ou treffer.

Genoeg vir 4.

Jy het nodig

Vir die rys
2 eetlepels botter
1 koppie rys
3 eetlepels bruinsuiker
1 teelepel borrie
1 kaneelstokkie
1 teelepel sout
3 koppies kookwater

Vir die frikkadelle
1 dik sny ou growwebrood
1 ui, gerasper
1 groen brandrissie, fyngekap
300 g beesmaalvleis
1 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1½ teelepel matige kerriepoeier
1 teelepel borrie
1 teelepel fyn komyn
2 teelepels fyn koljander
½ teelepel fyn naeltjies
½ teelepel varsgemaalde swartpeperkorrels
3 fyngemaalde wonderpeperkorrels
2 eetlepels amandelvlokkies
1 teelepel droë gemengde kruie
1 eetlepel blatjang
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
olie vir braai

Vir die samestelling
1 eetlepel botter
2 geklitste eiers
2 eetlepels melk
sou en peper na smaak
gekapte vars koljanderblare
2 eetlepels geroosterde gevlokte amandels

Só maak mens

bobotieVir die rys: Smelt die botter in ’n kastrol en braai de rys vir ’n minuut of 2 daarin. Voeg die suiker, borrie, kaneelstokkie en sout by en meng goed. Voeg die kookwater by en bring tot kookpunt. Laat 10 minute lank vinnig kook en verlaag dan die hitte om stadig te kook tot gaar en al die vloeistowwe verdamp het.

Vir die frikkadelle
Meng al die bestanddele saam in ’n groot bak. Gebruik jou hande om alles mooi deur te werk en vorm frikkadelle so groot soos tafeltennisballetjies. Verhit die olie in ’n pan en braai die frikkadelle daarin tot gaar.

Vir die samestelling
Verhit de botter in ’n pan oor matige hitte.

Klits die eiers en melk saam en geur met sout en peper na smaak. Giet di eiermengsel in die pan. Laat die eier toe om heeltemal aan die onderkant te stol voordat jy dit versigtig omkeer om ook aan die ander kant gaar te word. Roer die varsgekapte koljanderblare deur die geelrys. Skep die frikkdelle bo-op.

Sny die eier in dun repies en rangskik tussenin. Besprinkel met die gevlokte amandels bo-oor.

Bobotiefrikadelle