Soek die betowering

Saterdag was ’n holderstebolder-dag. Ek het, soos gewoonlik, half-vier opgestaan om te bak vir my stalletjie by die mark, maar so tussendeur moes ek ’n krat pak met kombuisgereedskap. Want in ’n oomblik van waansin het ek ingestem om by die mark aan ’n kookkompetisie deel te neem.

En toe Maswazi sewe-uur inklok om te help, is hy ewe druipstert. Hy kan nie by die stalletjie help terwyl ek kook nie, want hy moet vroeg by die restaurant inval. Ek vra toe maar vir Karen-van-die-heuning en Henry-van-die-neute om ’n oog oor my stalletjie te hou.

Ek was skaars klaar met die uitpakkery toe ek stelling agter die vreemde stofie ’n rapsie meer as ’n elmbooglengte tussen twee van die ander mededingers moes gaan inneem. Meteens het ’n paniek van my besit geneem. Ek het gewonder wat ek daar soek en kon om die dood nie onthou wat ek moet doen nie.

Die bestanddele voor my het geen sin gemaak nie, al was dit my eie resep wat ek sorgvuldig uitgetik het. Maar die letters op die papier het voor my oë geswem. Ek het dom die mes geneem en gevoel hoe die lem, wat ek daardie oggend nog skerpgemaak het, my duim lelik raps. Ek het ’n pleister uit my sak gehaal en om my vinger gedraai.

En in daardie oomblik was dit asof ek tot my sinne kom: Vergeet van alles en almal om jou, het ek vir myself gesê. Gaan soek die betowering diep binne-in jou, daar waar jy sin maak van alles en waar jy weet waarom jy kook.

Ek het die papier met my resep opgevou en in my voorskootsak gesteek en van daardie oomblik af het die pure genot van wat ek doen, van my besit geneem. Ek het nie gewen nie, maar ek het opnuut geswig voor die betowering en ook die beoordelaars so ’n ietsie daarvan laat ervaar. “Ek weet nie watter naam jy jou weergawe van bobotie gee nie, maar ek noem dit sommer donnerse lekker bobotie!” het die een laat hoor.

komp3

komp