Ek dood oor turksvye. Netjies afgeskil en yskoud uit die yskas. Groen, geel en rooi – die mooiste juweelkleure. Ek kon nog nie ‘n woord kry om die smaak te beskryf nie. Maar as ek aan hoogsomer dink, voel ek eintlik hoe die yskoue pitte en sappige vlees by my keel afgly.
Ek onthou nog uit die dae toe ek skool gehou het op Graaff-Reinet en naweke saam met my eerste man op die plaas duskant Jansenville gaan kuier het. Ek het skottelsvol verorber. My skoonmense het gespot en gesê ek is soos die apies in die veld – turksytyd sit hulle boeppens op die draad in die son en slaap, trommeldik geëet. Sommer so van die bos af. Ek sidder om te dink hoe hulle van die dorings moes gelyk het, want my vingers is altyd vol van die geniepsige fyn stekels wat oënskynlik onsigbaar word wanneer hulle by jou vel intrek. Maar jy wéét hulle sit daar.
En dis waaroor my en Maswazi se gesprek vanoggend gegaan het – oor turksvye en dorings. En oor die verkragting-turksy waarmee die ANC nou weer sit.
Maswazi is ‘n man wat nie baie praat nie. Maar hy het sy oomblikke. En wanneer hy die slag lostrek, vergoed hy behoorlik vir die lang stiltes. Ek en Zuki het al geleer om versigtig te trap wanneer dit by die politiek kom, want Maswazi is ‘n man wat wéét. En as hy eers op dreef kom, word dit ‘n lang storie. Maar dis die uitsondering. Hy is ‘n man van min woorde, ‘n man wat diep kyk. In die vier jaar wat hy onder my dak woon, het ek geleer om te luister wanneer Maswazi praat. (Of lekker te lag wanneer hy die slag die storie agterstevoor om beet het.)
“Karen, nobody has time – you make time,” het hy vir my gesê kort nadat ons my ma uit die siekeboeg van die aftree-oord gaan haal het om by my te kom bly. Dit was ‘n jaar gelede. Hy het dit goedkeurend gesê, om te beduie dat hy raaksien hoe ek sorg. Maar dit het my terselfdertyd aan die dink gesit. Ek máák nou tyd om nie net te versorg nie, maar te gaan sit en rustig te gesels, tyd saam deur te bring. Dit is nie altyd maklik nie, veral omdat ek van die huis af werk en móét tyd inruim om spertye te haal. So tussendeur moet ek en Maswazi moet ook vir ‘n hele paar winkels en ander kliënte bak.
Dit was my keuse, ja. En dit was nie ‘n maklike besluit vir iemand wat so jaloers waak oor eie tyd en ruimte nie (waarskynlik een van die redes waarom nie een van my drie huwelike baie lank gehou het nie). Maar die stres van nie weet nie en vier oproepe ‘n dag het my – en die personeel van die aftree-oord – byna gek gehad. Boonop het my pa ook nog by my gespook. As ek ook getwyfel het oor my besluit, het die vreemde ontmoeting by die hospitaal se ontvangstoonbank my finaal oortuig. Ek het my ma kom haal om huis toe te neem ná ‘n dag van drama in Ongevalle en ‘n weeklange hospitaalverblyf.
Die vreemde vrou met die sigeunervoorkoms het so uit die bloute met my gesels. Sy was duidelik een van die besoekers daar. “Waarheen neem jy jou ma nou?” wou sy weet. En toe sy hoor ek neem haar na my huis toe, het sy haar kop geknik sof sy dit eintlik geweet het. “Dis hoe die lewe is,” sê sy toe. “Daar is altyd één wat kan sorg.”
Dis waar, het ek besef. Die lewe het vreemde draaie met my geloop. Maar eindelik was ek nou heel voorbereid en goed ingerig om haar by my te neem.
Ek het gou begin bou aan ‘n ondersteuningstelsel. En my verstom aan die deernisvolle manier waarop Maswazi help sorg het. Wanneer “Ouma” gereed maak om winkel of biblioteek toe te gaan, begin sy al rondkyk waar Maswazi is om haar met die trap af te help. Hy kyk met ‘n fyn oog wanneer hy soggens kom môre sê. As hy sy kop skud en my vraend aankyk, kan ek maar weet hier kom groot moeilikheid. Die verligting is groot wanneer hy die oggend sê: “Ouma is looking fresh today.” Ek kon nog nie mooi agterkom wat die woord “fresh” vir hom beteken nie, maar só ‘n dag bring gewoonlik net goeie dinge.
Om dit vir my nog makliker te maak, het ek ook begin met ‘n hele paar speletjies en rituele, maar dis ‘n lang storie vir ‘n ander dag. Ek het ook besef my kosreis het ‘n nuwe afdraaipad gekies – ek ontdek nou die wonderlike, helende eienskappe daarvan en dis so bevredigend om die uitwerking daarvan op my ma te sien. Sy glo vas ek en my Toorkombuis toor haar gesond.
Dit was juis vanoggend, terwyl ek besig was om die sewe verskillende vrugte vir my ma se ontbytbuffet voor te berei dat ek en Maswazi oor dié turksvye begin praat het. Eers moes ek lank en geduldig verduidelik hoe moeilik ‘n verkragtingsaak is en sy vrae oor die kommentaar van inbellers op die radio probeer beantwoord. Toe staan en kyk hy na die skinkbord waarmee ek besig is. En hy prys my vir die moeite wat ek doen en vertel my hoe goed Ouma nou lyk in vergelyking met die brose, ou vroutjie wat ‘n jaar gelede hier by ons kom bly het.
Ek hanteer nie komplimente baie goed nie en om die ongemak van die gesprek te vermy, stuur ek dit toe in die rigting van die turksvye waarmee ek besig is. Ek weet dis die een vrug wat hy baie goed ken uit sy kinderdae in die Oos-Kaap. Hy het mooi gekyk hoe ek ‘n stuk handdoekpapier gebruik toe ek die een turksvy uit die yskas gaan haal. Ek het al ‘n vadoek gebruik, maar op die harde manier geleer daardie dorinkies sit agterna en wag vir jou in die voue van die doek en takel jou wanneer jy dit die minste verwag.
Nou lê daai turksvy op die snyplank en wag. Ek steek hom versigtig met ‘n vurk en hou vas terwyl ek eers die twee punte afsny, en een sny oor die lengte van die dik skil af maak. Dan sny ek versigtig die skil van die vlees af weg. Sodra daar genoeg vashouplek is tussen die skil en die vlees, met die dorings veilig aan die onderkant van die dik, wasagtige skil, gebruik ek my vingers om die vrug uit sy stekelrige omhulsel te rol, in mooi skyfies te sny en op die bordjie te pak.
Só staan Maswazi vir my en dophou en kom met een van sy seldsame stories uit sy kindertyd. Hulle het gereeld gaan turksvye pluk, vertel hy. Maar sodra die boks vol was, het hulle dam toe gehardloop om te gaan swem. Dis om van daardie lastige dorinkies ontslae te raak. En, sê hy voor jy begin pluk, moet jy ook eers goed seker maak watter rigting die wind waai.
Nou hoop ek maar ons staan almal so dat die wind die dorinkies anderkant toe waai en ons net die soet van die vrug, sonder die steek en seer, sal ervaar.
In my Toorkombuis ervaar ek elke dag die betowering van die kospotte – ‘n knippie hiervan en ‘n knippie daarvan en ek word weggevoer op ‘n towertapyt van geur. Maar ek laat niks aan die toeval oor nie – dis so maklik om afgestomp te raak en nie die wonders om jou raak te sien en te ervaar nie.
Kook en bak is harde werk. Dis vroeg opstaan, ure lank op jou voete en winter en somer tussen twee warm oonde vasgevang. Baiekeer, wanneer ek saans doodmoeg neerval, wonder ek of dit regtig die moeite werd is.
Dan is dit daardie gemmerkoekie-oomblikke wat my tevrede laat sug en in ‘n diepe slaap sink . . .
Ek het nie eintlik ‘n soettand nie. Ek is ook nie regtig ‘n koek-en-tee mens nie. En oor poeding is ek min gepla.
Kleintyd het ek saam met maats in ‘n weikamp gespeel. My voet het aan ‘n stuk bloudraad, die onderste deel van die draadheining, vasgehaak en ek het myself wind-uit geval. Dit het ‘n goeie 52 jaar gelede gebeur, maar ek sal daardie gevoel nooit vergeet nie.
In die vroeë oggendure het dit hier by my soos Soutrivierstasie met spitstyd gelyk. Waarskynlik gaan dit elke nanag so wanneer ek die laaste lekker slaap inkry.
Vrydag is ‘n deurmekaar dag hier in die Toorkombuis. Dis wanneer die groot opbou na markdag begin.
Ons gesels dik stukke so oor die mengbakke en tussen die warm oonde in my klein kombuisie vasgevang. Veral noudat Jason, die nuwe baas van The Stud Bar, Maswazi se potensiaal raakgesien en hom assistent-sjef gemaak het. Sulke gemeenskaplike sjef-tot-sjef geselsies. Hy vertel my al die stories van die kombuis daar.
Ek het besluit ek gaan nie vandag hartseer wees nie. Hierdie Vadersdag gaan ek my verlange vier deur hier diep in my binneste saam met my pa te giggel.
Vandag voel vir my soos ‘n propperse dankseggingsdag. Eintlik wou ek so ‘n bietjie bene in die lug gelê en die gevoel behoorlik laat insink het. Maar voor ek my kon kry, bring ek offerandes in die kombuis terwyl ek Callas afwissel met Netrebko en Villazón.