Erfenisdag
Hier met die dae rondom Erfenisdag kan ’n mens nie anders as om diep te dink oor die dinge wat jou die mens gemaak het wat jy is nie. Dis hoekom ek juis nou wil hulde bring aan my kombuis.
My ma is en was nie baie lief vir kook nie; my ouma Gertie het die dierbare Violet in die kombuis gehad en my ouma Drienie, my enigste kook-ouma, is dood toe ek agt jaar oud was. By haar het ek geleer soetsuur-komkommerslaai maak en met haar voorlaaste Kersfees was ek oud genoeg om vir haar vyfsente by die kiosk op De Bakke-strand te gaan haal vir die krismispoeding. Die Kersfees daarna is sy dood en niemand het toe veel aan kos gesteur nie.
Dit was eers baie jare later dat ek die hart van my kombuis leer ken het. Dis daar waar ek gerfies vars kruie tussen my vingers gekneus het terwyl ek treur oor verliese en verlore liefdes, waar ek vrede gemaak het met die finaliteit van die dood in geure van geroosterde tamatie en gerookte paprika.
Ek berei met gulle hartstog feestafels vir vriende en familie, in stille afwagting ’n intieme liefdesmaal vir die man der manne. Ek maak my hart oop terwyl die geure deur my kombuisvenster glip en tergend straat af dartel.
Daar voor die stoof het ek gevoel hoe ek weer heel word, het ek stadigaan begin om myself na waarde te skat. Ek het vrede gemaak met die wêreld en met wie ek is, geleer om meer verdraagsaam te wees. Dis ook daar in my kombuis wat ek telkens weer tot nederigheid gedwing word – geen mens kan neus in die lug bly as die sous skif of klonte maak nie!
Dis harde werk en daar is niks romanties aan vuil skottelgoed en die ewige skoonmaak nie. Maar wanneer ek eers my groen ysterpot tafel toe dra en terugstaan en toekyk hoe ’n vredige saligheid oor my tafelgenote neerdaal, is ek op my gelukkigste.