Kerrie en klapper vir ‘n hart wat breek
Hier in my kombuis vind ek troos. Wanneer my hart in duisend stukkies breek, trek ek my groen ysterpot nader en stort al my hartseer uit in ‘n bredie of ‘n sop. Soos nou, met my kleine kattekind wat siek is en ek so oneindig hulpeloos en jammer voel. Niks maak die hart so warm soos kerrie en klapper nie.
Kerrie-en-klapper-aartappelsop
Genoeg vir 6
3 eetlepels olyfolie (of sonneblom- of canola-olie)
3 uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 groen brandrissie, saadjies verwyder en fyngekap
1 x 2 cm stuk vars gemmer, geskil en fyngekap
8 – 10 middelslag aartappels, geskil en in blokkies gesny
gerasperde skil van 1 suurlemoen
1 eetlepel matige kerriepoeier
6 koppies hoenderaftreksel
1 x 400 g blikkie klappermelk
‘n handvol vars gekapte koljander, blaartjies en stingeltjies
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Verhit die olie in ‘n swaarboomkastrol oor matige hitte en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, rissie en gemmer by en soteer vir nog ‘n paar minute totdat die lieflike geure bokant die pot hang. Voeg die aartappelblokkies by en meng goed. Roerbraai vir ‘n minuut of twee en voeg die kerriepoeier by. Voeg die suurlemoen en hoenderaftreksel by. Bedek die pot, verlaag die hitte en laat vir ongeveer 20 minute prut totdat die aartappels lekker sag is. Roer die klappermelk en koljander by en geur met sout en peper na smaak. Laat vir nog 10 minute prut. Gebruik ‘n handmenger (of voedselverwerker) en verpulp die sop totdat jy ‘n fluweelgladde mengsel het. Maak deurwarm en bedien.