Juffrou Berta se boeke
Ek vrek oor kookboeke — en ek het letterlik duisende van die goed. Maar dit maak nie saak hoe vinnig hulle aanwas nie — ek onthou die storie agter elkeen, waar elkeen vandaan kom en wat of wie my geinspireer het om dit te koop (of by wie ek dit present gekry het!
Twee van die boeke laat my altyd glimlag en met deernis terugdink aan ‘n baie spesiale mens (eintlik twee mense) wat ‘n baie groot rol in my lewe gespeel het.
Juf. Bertha Smit was hoofredakteur toe ek destyds by die uitgewers begin werk het. Sy was deel van die dertigers – N.P.van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Hettie Smit en so aan – en ek kon my verluister het aan haar stories.
Sy het pryse gewen met haar roman Die Vrou en die Bees, maar toe een resensent haar Die Man met die Kitaar afmaak met ‘n snedige “hierdie kitaar het net een snaar”, het sy nooit weer iets gepubliseer nie. Tot kort voor haar dood toe sy almal stilgeskryf het met haar bekroonde Juffrou Sophia Vlug Vorentoe.
Sy het my vertel dat sy nog nooit kon kos maak nie. Sy het geskryf toe die ander meisies van haar ouderdom voorskoot aangestrik en deur Ma by die kombuiskultuur ingelyf is. Maar sy was min gepla. Saans het sy vir haar ‘n aartappel gekook, ‘n tjop gebraai en ‘n stukkie tamatie daarby gesny. Elke aand.
Toe sy in haar nuwe woonstel in Seven Oaks intrek, het haar buurman, wat haar toe skaars geken het, gevra dat sy na sy plante kyk terwyl hy in Frankryk gaan toer. Om dankie te sê, bring hy toe vir haar die ultimate Franse Kookboek, Julia Child, Louisette Bertholle en Simone Beck se Mastering the Art of French Cooking met die inskripsie “Pour mon amie des plantes, Lekker kook! ”.
Hierdie formidabele kosskrywers doen dinge nog op die regte, ou manier en kortpad kies is taboe. As jy een van daai resepte aanpak, moet jy jou maak klaarmaak vir ten minste drie dae voor die stoof.
Nie vir Berta nie. En toe Buurman haar nou eers beter leer ken — ná verskeie gekookte aartappels, tjops en tamaties — het hy sy fout agtergekom. Toe gee hy vir haar Cook Book for Clots met dié inskripsie: “To the biggest of them all! ”
Hierdie twee boeke was onder die wat sy vir my gegee het toe sy haar woonstel opgegee en by haar suster gaan woon het. (Aan die suster het ek ook baie goeie herinneringe — sy het in ‘n stadium vir my Engels op universiteit gegee — ‘n sagte siel en ‘n briljante dosent.) Met die boeke se weggee het sy ‘n hele paar hoofstukke afgesluit, maar vir my ‘n leeftyd se passie ontsluit.



