‘n Vroeë Kersgeskenk

‘n Vroeë Kersgeskenk .. . Nog ongebind maar klaar gedruk. Die res, die voltooide simfonietjies, is op ‘n boot op pad hierheen van Maleisië af en middel-Januarie pryk hulle op die winkelrakke.

Ek knyp myself om seker te maak ek droom nie. Presies ‘n jaar gelede, op Kersdag, het die ding begin. Ek het met die opstaanslag, toe my voet grond raak uit die bed uit, my voorgeneem om die jaar wat voorlê meer te skryf oor my kokery. Voor die einde van die volgende jaar, het ek myself belowe, gaan ek met ‘n manuskrip onder die arm ‘n uitgewer soek. My eerste kookboek.

Weet nie waarom die bevlieging juis Kersoggend gekies het en nie wou wag vir Nuwejaar om ordentlik voornemens te maak nie.

Laat daardie middag, toe ek tot stilstand kom ná al die Kersfees-gedoentes, volg ek ‘n Nigeriese gemorspos na daardie posbussie op Facebook waar al die boodskappe van nie-vriende lê en wag om raakgesien en goedgekeur te word. Of uitgewis te word soos ‘n lastige muskiet, soos die enetjie van Nigerië.

Toe sien ek dit – die boodskappie lê toe net mooi ‘n maand daar. Van 25 November tot 25 Desember. Dis van ‘n uitgewer. En nie sommer enigeen nie – Human & Rousseau! Kan ons gesels oor ‘n moontlike manuskrip? Ek was seker iemand probeer die gek skeer met my en het eers seker gemaak die kontaknommers en eposadres is werklik.

En toe raak ek paniekerig – sê nou die mense dink ek stel nie belang nie? Watter idioot ignoreer só ‘n boodskap ‘n hele maand lank.

Maar hierdie Kersgeskenk was toe baie meer as ‘n feestydbevlieging, ook nie net ‘n voorneme wat saam met die vonkelwynborrels verslaan het nie. Twee dae voor Kersdag wag ek vir die skippie om my eerste boek oor die water te bring. En op die tafel lê die getekende kontrak vir my tweede!