Patat en tiemie vir ‘n wrede April
Hier aan die begin van April, net ná die Paasnaweek, sit ek by my sielkundige. Met al die vakansiedae wat alles so deurmekaarkrap, het ek skandelik van ons maandelikse afspraak vergeet en moes holderstebolder in die taxi spring om betyds daar te wees.
En daar, toegeskulp in haar kamer-van-lig, pluk sy die matjie net so effens onder my voete uit. “Hoekom skryf jy nie ‘n boek nie, “wil sy weet, “oor hoe jou kombuis jou uit die donker na die lig geneem het? Ek kan in teksboektaal omskryf wat jy hier sommer so gewoonweg en baie meer verstaanbaar vir my vertel. En, “ sy kry so ‘n skelm glimlag, “jy kan sommer so ‘n paar resepte ook bywerk.”
Dis toe nou net mooi op daardie oomblik dat die gode van Olympus (of wie ook al deesdae in die beurtkrag van die noodlot reguleer) so ‘n boosaardige glim in die oog kry. Toe word daai liggie van my getoets – net ‘n floue flikkering teen die golf van donkerte wat op my toesak. Alles wat kon verkeerd gaan, het. Die wrede April daar op T.S. Elliott se verlate vlaktes is ‘n piekniek teen die maand wat ek beleef het.
Uit die bloute uit word ‘n dollar-transaksie namens my op my bankkaart beklink. Ek staan magteloos en kyk hoe die geld uit my rekening verdwyn. In ‘n fratsongeluk tydens ‘n verwoede skoonmaaksessie word die prop van my adsl-lyn so beskadig dat Telkom, toe hulle eindelik na ‘n week opdaag, die fout by die lyn buite moes gaan soek. Maar die ergste van alles was my kat, wat vir twee dae byna leweloos net bly lê het. My skottelgoedwasmasjien het besluit om te staak en, kort op sy hakke, het my een oond by sy vakbond aangesluit. My voedselverwerker het ewe lojaal bly voortsukkel en toe eindelik in die hospitaal beland.
En elke oggend, met die opstaanslag al, moet ek baklei teen die donkerte wat dreig om my te verswelg. Ek moet myself dwing om aan die gang te kom. “’n Mens besef nie hoe hard jy moet werk om gelukkig te wees nie,”spook my einste woorde aan my sielkundige nou by my.
“Gooi ‘n handvol sout by die trap af,” sê vriend Cedric, my selfaangestelde krygsheer. Verflenterd en verwese doen ek dit maar en ek vervang die gloeilampie in my soutlamp, wat ‘n maand gelede al geblaas het. Hy stop my ‘n CD in die hand met die opdrag om Maria Callas se Casta Diva te gaan luister. Ek het ‘n hele paar van die einste opnames, maar ek neem dit gedwee en gaan luister.
In dié tyd leer ek ‘n groot les. Ek het al die jare so hard gewerk om self staande te bly en heel anderkant uit te kom. En toe kom hierdie Aprilmaand en wys my hoeveel die mense in my lewe vir my omgee en my dra. Dis goed om te leer om vir jouself te baklei, maar net so af en toe kan jy maar die skanse laat val en die mense na aan jou toelaat om te help.
En dis vir hulle wat ek hierdie sop kook, my patat-en-tiemiesop. Dis ‘n bedrieglik eenvoudige sop met ‘n rykdom van geure – die warme koestering van ‘n tikkie gemmer en rissie en fluweelsag op die tong.
Patat-en-tiemiesop
Genoeg vir 6
3 eetlepels botter
3 eetlepels olyfolie
1 groot ui, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 x 3 cm stuk vars gemmer, fyngekap
1 rooi brandrissie, saadjies verwyder en fyngekap
1 kg patat, geskil en in blokkies gesny
3 takkies tiemie
6 koppies hoender- of groente-aftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Verhit die botter en olie saam in ‘n swaarbompot oor matige hitte. Braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, rissie en gemmer by en braai nog ‘n minuut of twee. Voeg die patatblokkies by en roer goed deurmekaar. Plaas die tiemietakkies bo-op en geur met sout en peper na smaak. Verlaag die hitte, bedek die pot en laat liggies prut vir ongeveer 10 minute. As jy bang is vir vasbrand, kan jy ‘n skeutjie aftreksel byvoeg. Haal die deksel af en voeg die res van die aftreksel. Verhoog die hitte effens, bring tot kookpunt en laat vir nog 15 minute prut. Verwyder die tiemietakkies. Gebruik ‘n handmenger of voedselverwerker om die sop te verpulp. Maak deurwarm en skep op.
Gaan sit om die tafel saam met jou mense, vat hande en sê dankie. Net dit.