Soete inval — koejawels, koejawels, koejawels
Dit reën koejawels hier by my – wittes en pienkes. Elke oggend loop ek die tuin in en steier terug met ‘n mandjievol.
Drie bome wat dra – twee vrygewige wittes en ‘n effens suiniger pienke. Die bome was hier toe ek hier ingetrek het en hou my voltyds besig hier oor die wintermaande.
Ek kan nie mandjiesvol present gee aan bure, vriende en familie en geseënd voel nie. Ek kan hulle ook nie op my marktafel gaan opstapel en verkoop nie. Want my koejawels is nie prentjie-mooi Woolies vertoonvrugte nie. Hulle is vol sonvlekke en bystekies en moet verwerk word.
Die eerste jaar hier in my nuwe huurhuis was die koejawels ‘n aardigheid en ek het flink aan die werk gespring. Die volgende jaar het ek geweet wat op my wag en ek het effe langtand meegedoen. Verlede jaar het ek dit net eenvoudig geïgnoreer en Maswazi het sakkevol weggedra na die bosse waar hy toe nog gebly het.
Vanjaar het ek heel begeesterd weggespring. En ek het nou al elke denkbare manier uitgedink waarop ek die kilo’s en kilo’s pittige vruggies kan verwerk en benut:
Koejawels in boegoeheuning, sitrus en speserye om soggens saam met jogurt vir ontbyt te eet, gebakte koejawelpoeding, koejawelkolwyntjies. En dan is daar die ure se geduld met koejawelblatjang en koejawelsmeer . . . Volgende op die lysie is koejawelkonfyt en gedroogde koejawellekkers. As die weer saamspeel en my moed my nie voor daardie tyd begewe nie, mag ek dalk nog oorweeg om koejaweltameletjie te maak.
Maar vir my, glo ek, is die koejawelhoender wat ek Sondag opgetower het, die algehele wenner. Dis so ‘n kombinasie van ‘n paar van my koejawelprodukte met ‘n paar varses so tussenin. Die persimmonsalsa daarby is ‘n heerlike vars smaak en ‘n ontploffing van kleur.
Ek het dit piekniekstyl voorgesit met ‘n sny of twee varsgebakte brood daarby. Die lekkerste lekker . . .
Spysige koejawelhoender met persimmonsalsa
Genoeg vir 4
Vir die koejawelhoender
¼ koppie olyfolie
1 eetlepel koejawelblatjang
1 eetlepel koejawelsmeer
1 rooi brandrissie, pitte verwyder en fyngekap
gerasperde skil van 1 lemoen
gerasperde skil van 1 suurlemoen
sap van ½ lemoen
sap van ½ suurlemoen
½ koppie droë witwyn
8 – 10 hoenderstukke
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
3 uie, in skywe gesny
4 vars koejawels, geskil en pitte verwyder, en in repe gesny
sout en varsgemaalde swartpeper na smaakVir die persimmonsalsa
2 persimmons, geskil, pit verwyder en in stukkies gekap
½ ui, fyngekap
½ rooi brandrissie, pitte verwyder en in stukkies gekap
1 eetlepel fyngekapte vars koljander
1 eetlepel olyfolie
1 eetlepel suurlemoensap
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Plaas die eerste 9 bestanddele vir die koejawelhoender in die voedselverwerker en meng goed. Plaas die hoenderstukke in ‘n glasbak en giet die mengsel bo-oor. Meng goed sodat elke hoenderstuk met die marinade bedek is. Bedek die bak met kleefplastiek en laat vir ‘n uur lank marineer. Rangskik die knoffel, uie en vars koejawelrepe in ‘n oondbak en plaas die gemarineerde hoenderstukke bo-op. Geur met sout en peper na smaak. Plaas in ‘n voorverhitte oond van 180⁰C vir 45 minute tot ‘n uur of totdat die hoenderstukke gaar is. Maak intussen die salsa: Meng die eerste 4 bestanddele. Klits die olyfolie, suurlemoensap en sout en peper saam en giet oor die mengsel. Meng goed. Hou eenkant totdat die hoender gaar is.
Koejawelblatjang
2 kg koejawels, geskil en grofweg gekap
3⅓ koppies uie, grofweg gekap
⅔ koppie heuning (ek het boegoe-heuning gebruik, maar dis jou keuse)
3 koppies appels, geskil en in stukkies gekap
4 koppies gedroogde bosbessies (cranberries)
1 teelepel sout
‘n knippie rissiepeper
Plaas die koejawels in ‘n kastrol en voeg ‘n klein bietjie water by. Kook totdat die koejawels sag is en al die water verdamp het. Vryf die koejawels deur ‘n growwe sif. Meng die koejawelmoes met die res van die bestanddele en plaas in ‘n vlekvryestaalkastrol. Bedek die pot en laat oornag staan. Kook die mengsel die volgende dag oor matige hitte totdat dit dik is en nie meer waterig nie. Bottel die blatjang terwyl dit nog warm is en verseël die flesse.
Koejawelsmeer
Halveer die koejawels, plaas in ‘n kastrol en bedek met water. Kook totdat die koejawels sag is. Dreineer en vryf die koejawels deur ‘n growwe sif. Weeg die koejawelmoes en voeg 1 koppie suiker by vir elke 2 koppies moes. Plaas in ‘n kastrol en kook stadig oor matige hitte totdat dit soos botter is en die moes en stroop nie meer skei nie. Bottel en verseël terwyl dit nog warm is.