Suurlemoen-en-roosmaryn-stroopkoek
Suurlemoen en roosmaryn, gemaalde amandels… en ‘n heerlike stropie. Dit is waaroor hierdie koek eintlik gaan. Die tikkie suur en die ongewone teenwoordheid van ‘n krui wat gewoonlik nie met soet geassosieer word nie, maak van hierdie lekkerny iets besonders.
Jy het nodig
1 opgehoopte koppie broodkrummels
1 koppie gemaalde amandels
1 eetlepel vars roosmaryn, gestroop van die takkies en fyngekap
gerasperde skil van 1 suurlemoen
1 koppie strooisuiker
2 teelepels bakpoeier
200 ml olyfolie
4 eiers geklits
Vir die stroop
½ koppie water
¼ koppie strooisuiker
2 takkies roosmaryn
sap van 2 suurlemoene
Meng al die droë bestanddele saam en voeg die eiers en olie by. Skep in 4 mini-losboomkoekpannetjies, gesmeer en met bakpapier gevoer. Plaas in ’n koue oond. Verhit die oond tot 180⁰C sodra jy die pannetjies ingesit het en bak vir 30 minute.
Plaas al die bestanddele vir die sous in ’n kastrolletjie en bring tot kookpunt. Kook vir 5 minute. Skakel die stoofplaat af en laat staan die kastrolletjie sodat al die geure goed kan ontwikkel. Haal die koekies uit en oond en prik liggies met ’n vurk. Giet die stroop oor en laat staan om af te koel.
Bedien met ’n lekker volroom Griekse jogurt.