Toor-maand

Ek durf nie Vrouedag vir myself toe-eien nie – daarvoor het ek te veel respek vir die vroue wat jare gelede aan die protesoptog by die Uniegebou deelgeneem het in ‘n dapper poging om ‘n einde aan die onreg te maak.

Maar dit was in hierdie maand, nege jaar gelede, dat ek my eerste treë op die lang pad na bevryding gegee het . . .

My sielemaat was in ‘n semi-koma in die hospitaal en my loopbaan van glansskryf en TV-stories het dodelike roetine geword. Vir die eerste keer in my lewe was ek , omring deur werksmense en vriende, werklik eensaam en het half verlore gevoel.

Ek lees toe Julie Powell se Julie & Julia, nog lank voor die rolprentbase eers gedagte aan die fliek gekry het. Skaars het die woorde van die eerste bladsy begin insink of ek besef hierdie is my Damaskus-pad, my aha-oomblik. Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.

HIerdie Julie kombineer haar liefde vir skryf en kook. Ek het nog altyd verskeurd gestaan tussen die twee groot liefdes in my lewe – nooit daaraan gedink om dit saam-saam uit te leef nie. En so het dit gekom dat ek tussen die hospitaalbesoeke en spertye deur my blog, Toorkombuis, begin het.

Toe ek aan die blog begin skryf het, was dit vir myself. Ek het nie eintlik gedink dat ander dit sal lees nie. Na die eerste inskrywing, was ek verstom oor die kommentare. Ek het dierbare kubervriende gemaak – Jannas, Pou Veer en Maankind . . .

Een van my grootbase, Willem Breytenbach, het my blog gelees en my gevra om vir die nuwe tydskrif Kuier te kook. Kuier se mense het my tweede familie geword en die liefde van die lesers het my heeltemal onkant gevang.

Nou die dag moes ek ‘n kompetisie vir die tydskrif help beoordeel en agterna kom ‘n gas van een van die deelnemers en vra of sy vir my ‘n drukkie kan gee. Sy is mal oor my resepte, sê sy, en ek voel soos ‘n ou vriendin. Dis sulke oomblikke wat ek in my hart koester en wat my dankbaar laat terugdink aan daardie Augustus toe Toorkombuis gebore is.

Die naam het ek gekies omdat dit juis dít is wat my van kook fassineer –  die betowering wat daar in die kospotte plaasvind. My vriende het gelag en gesê dit is ‘n Toorkombuis, ja, want dis net nie menslik moontlik om te kook soos ek kook in daardie posseël-grootte kombuisie van my nie.

(Dit was destyds daar in my woonstel teen Leeukop. Cass Abrahams moes eenkeer saam met my daar kook vir ‘n gesamentlike kosfotosessie. Agterna het sy vertel sy het vir haar man gesê sy bid elke dag vir hierdie vrou met die klein kombuisie.)

My kombuis is deesdae nie veel groter nie, maar die betowering groei steeds. Ek staan ook nie meer agter my stoof en wonder hoe ek ooit my kosstem buite die mure van my kombuisie sal kan laat hoor nie.

Elke tweede week is my resepte in die splinternuwe Kuier op die winkelrakke. My blog het ‘n webtuiste, www.toorkombuis.co.za, geword (ook danksy die einste Willem wat my van die begin af vir Kuier laat kook het). Ek het elke Saterdag ‘n tafel by die Market at the Palms en die lekkerste daarvan is om met die mense oor my resepte te gesels. Donderdagmiddae deel ek resepte op Radio Kaapse Kansel. My eerste kookboek – manuskrip en foto’s – is amper reg om drukkers toe te gaan. As alles goed gaan, pryk dit Januarie op die winkelrakke.

Vandag eer ek die vroue wat hul stemme laat hoor het om ‘n einde te maak aan ongeregtigheid. Maar die res van hierdie maand vier ek die wonderlike gebeure wat die betowering in hierdie vrou se lewe gebring het.