Toor Met Hoender-kompetisie met Radio Kaapse Kansel

Haal diep asem. As jy ‘n bietjie te laat ingeskakel het en net die helfte van die resep gehoor het, kan jy sommer hier kyk. Maak die resep, neem ‘n foto daarvan en plaas dit op Radio Kansel se Facebook-blad. Aan die einde van die maand gaan ons kyk watter foto lyk na ‘n wenner en jy kan vir jou ‘n kopie van Toor met Hoender, my nuwe resepteboek (my eerste!), losslaan. As jy sukkel om die resep te lees of sommer net wil gesels, kan jy my kontak op karen@toorkombuis.co.za. Of soek Toorkombuis op Facebook en laat vir my ‘n boodskap.

Oondgebraaide Kentucky-hoender

Genoeg vir 4

8 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
2 koppies karringmelk
2 koppies koekmeelblom
½ koppie broodkrummels
2 teelepels sout
1 teelepel varsgemaalde swartpeper
2 eetlepels paprika
2 eetlepels droë gemengde kruie
1 teelepel rissiepoeier
1 teelepel mosterdpoeier
1 hoenderaftrekselblokkie, verkrummel
1 teelepel fyn wonderpeper
¼ koppie olie

Geur die hoenderstukke met sout en peper en plaas saam met die karringmelk en knoffel in ‘n glasbak, bedek met kleefplastiek en laat oornag in die yskas staan. Meng die res van die bestanddele (behalwe die olie) saam en keer op ‘n vlak bord uit. Haal die hoenderstukke uit die karringmelk, skud die oortollige karringmelk af en druk in die kruiemeelkrummelmengsel sodat elke stuk alkant bedek is. Plaas die hoenderstukke op ‘n bakplaat. Giet die olie in ‘n sproeikannetjie en spuit ‘n bietjie olie op elke hoenderstuk. Bak in ‘n voorverhitte oond van 200⁰C vir ongeveer 45 – 50 minute of totdat jy seker is die hoender is heeltemal gaar. Bedien saam met kapokaartappels en ‘n lekker koolslaai.