Tropiese verleiding – mangojellie
Hoogsomer is ‘n geil oordaad van vrugte. En as daar nou een vrug is wat my somer en son laat ruik en proe, is dit mango’s.
Ek het nog altyd gewonder oor daai appeltjie — ek sweer dis met die vlesige oordaad van ‘n mango wat Eva vir Adam verlei het. ‘n Appel doen dit net eenvoudig nie vir my nie. Mango’s, ja — ek swig telkens voor die versoeking. Die kleur en geur laat my altyd meer koop as wat ek kan hanteer en dan sit ek met vrugte wat smeek om geëet te word.
Hierdie jellie is net die ding om te maak – dis so lekker, jy sal al jou mangos sommer begin ryp wens. As jy nie lemmetjies in die hande kan kry nie, of voel dis te duur, kan jy gewone suurlemoen gebruik.
1 groot ryp mango, geskil en in stukke gesny
Sap van 2 lemmetjies (of suurlemoene)
½ koppie strooisuiker
1½ koppie vars lemoensap
3 teelepels (1 koevertjie) poeiergelatien
Verpulp die mangostukke in ‘n voedelverwerker en voeg die lemmetjie- of suurlemoensap by. Gooi die mengsel in ‘n maatbeker uit – jy het 1 koppie vloeistof nodig. As die pulp ‘n bietjie te min is, kan jy dit met ‘n bietjie water of ekstra lemoensap aanvul. (Ek verpulp gewoonlik sommer 2 mangos op ‘n slag en gebruik dit wat oorbly verdun met lemoensap as ‘n heerlike verkwikkende drankie.) Gooi die suiker en die lemoensap in ‘n kastrol en verhit oor matige hitte. Roer totdat die suiker opgelos het. Giet die vloeistof in ‘n hittebestande glasbak en sprinkel die gelatien bo-oor. Roer en maak seker die gelatien het heeltemal opgelos. Roer nou die mangomengsel by en skep in klein vormpies, bakkies of selfs glase en laat oornag in die yskas om behoorlik te stol.