Witsjokolade-en-pimperneutkolwyntjies

Hierdie wonderlike wit sjokolade-en-pimperneutkolwyntjies wonderwerkies was een van die heel eerste resepte wat ek in my nuwe stoof gebak het.

Jy het nodig

Vir die kolwyntjies
225 g (net so ‘n bietjie minder as 1 koppie) sagte botter
200 g (1 koppie) strooisuiker
225 g (2½ koppies) koekmeelblom
2½ teelepels bakpoeier
4 groot eiers
1 teelepel vanielje-ekstrak
100 g (½ koppie) wit sjokolade, gekap

Vir die versiersel
200 g (1 koppie) wit sjokolade, gekap
5 eetlepels melk
165 g (⅔ koppie) versiersuiker, gesif
3 opgehoopte eetlepels gekapte, geroosterde pimperneute (pistachio)

So maak mens

Klits al die bestanddele vir die kolwyntjies (hehalwe die sjokolade) saam in ‘n groot mengbak met ‘n elektriese klitser totdat dit lig van kleur en romerig is – ongeveer 2 -3 minute. Roer die sjokoladesplinters by. Skep die deegmengsel in die bakkies van twee 12-gat-muffinpannetjies (die resep lewer 24 kolwyntjies).

Bak vir ongeveer 25 – 30 minute in ‘n voorafverhitte oond van 160˚C. Haal die pannetjies uit die oond en laat die kolwyntjies in die pannetjie vir vyf minute lank afkoel voordat jy dit op ‘n draadrak uithaal om verder heeltemal af te koel.

Smelt die sjokolade saam met die melk vir die versiersel in ‘n dubbelkoker en roer gereeld. Haal van die hitte af en klits die versiersuiker by. Smeer die mengsel bo-op die kolwyntjies (wanneer die kolwyntjies heeltemal afgekoel is) en sprinkel die neute bo-oor voordat die sjokolade kans kry om te stol. Hemels!