Maaskaas-, heuning- en kaneelroomys
’n Smullekker roomys vir dié van ons wat van ’n bietjie minder soet hou. Die smaak herinner nogal so ’n bietjie aan kaaskoek – yskoud en heerlik vir die warm dae wat voorlê.
Jy het nodig
500 ml room
1 x 250 g houer gladde maaskaas
125 ml fynbosheuning
5 ml vanielje-ekstrak
’n knippie kaneel
Só maak mens
Giet 60 ml van die room saam met die maaskaas, heuning, vanielje-ekstrak en kaneel in ’n mengbak en klits tot glad. Klits die res van die room in ’n aparte mengbak totdat dit stywe puntjies vorm. Vou die room versigtig in die maaskaasmengsel in en giet in ’n plastiekhouer met ’n deksel. Vries vir ongeveer 3 – 4 uur of totdat die roomys geset het. Laat dit 15 minute voor opdiening buite die vrieskas sodat dit effens sag kan raak.



