Koele lafenis
Ek is nie baie lief vir roomys nie. Ek hou van yssuigstokkies, ja, veral dié wat van vars vrugtesap gemaak is. Daardie knewel van ’n grenadella-yssuigstokkie met die pitjies so ingeryg in die goudgeel ys is vir my die lekkerste lekker.
Maar soms, net soms sal die lus my oorval vir die romerige koelte van draairoomys. Op die vreemdste tye. Dis selde dat ek in die somer deur ’n roomyslus gepla word. Maar in die hartjie van die winter, op die koudste dag denkbaar, smaak roomys vir my op sy lekkerste.
My pa was vreeslik lief vir roomys. En hy het dit altyd met soveel smaak geëet dat enigiemand wat dit staan en aanskou het, self lus gekry het. Ek het nou die dag afgekom op ’n ou video wat opgeneem is tydens een van ons laaste familie-etes saam. Terwyl die aandag elders gefokus was, het my pa rustig met een van sy kleinseuns op die skoot gesit en saam het hulle die roomysbak blinkskoon geëet het.
Ek het nog altyd die vermoede dat die lekkerte meer te make gehad het met die kleintyd-onthou wat dit in hom losgewoel het. Die dae toe hulle vakansietye van Springbok af Mosselbaai toe gery het om by De Bakke vakansie te hou.
My pa het altyd vertel hoe hulle, die Bothas, konvooi gery het saam met die Van Niekerks. (Die ou dokter van Niekerk was ’n legende in sy tyd in Namakwaland se wêreld.) Saans het hulle ’n seiltjie tuseen die twee ou karre gespan en dan het almal sommer daar in die veld geslaap. Hy het met groot smaak vertel hoe die van Niekerks se dogter in die nag per ongeluk met kaalvoet in die skottel vars plaasbotter, wat moes saam see toe, getrap het.
Maar die opgewondenheid oor die see-toe-ganery het al daardie dinge na kleinighede laat lyk. Ons was al opgeskote tieners toe my pa nog elke Desember ons so kort duskant Albertina al stip voor ons in die pad laat kyk het om te sien wie eerste die see kan sien. Ek sal nooit vergeet nie – dis so ’n effense bultjie op ’n draai en dan skielik sien jy die blou van Mosselbaai met Robeiland so half onvanpas in die middel van die groot uitgestrekte waters.
My pa het lank op komitee na komitee baklei om die ou De Bakke met sy opslaanstrandhuisies te behou. Vandag is dit ’n siellose plek met net die strand en die see wat jou nog so effens wil-wil laat onthou. Hy het ook jare lank, tot kort voor sy dood, aangedring dat ons oor Desember saam met die Van Niekerks gaan piekniek hou. Alles vir die onthou van daardie konvooirit van Springbok na die see – al het nie een van ons of die Van Niekerk-kinders iets gemeen gehad nie.
Ek vermoed die liefde vir roomys het vir hom ook daar by die see begin. Vir my was die wonderlikste toe ek daardie eerste keer vir my pa roomys kon gee wat ek self gemaak het. Vandag nog is dit vir my iets baie spesiaals om dit self te maak – sonder ’n roomysmaker.
Hierdie resep is eintlik vir mense wat nie vreeslik lief vir soetgoed is nie. Dit herinner nogal so ’n bietjie aan kaaskoek. Ek het die heuning wat ek gebruik het by Karen van Darling gekry. Sy verkoop die wonderlikste heuning op die mark. As jy dit eers geproe het, sal jy nooit weer dit oor jou hart kry om ’n pot heuning van die supermarkrak af te haal nie.