Niks spel vir my só somer soos ‘n lekker wrap nie. So ‘n maaltyd-in-die-hand laat jou dink aan sambreelkos op sonnige strande of iets piekniekerigs onder koeltebome. Dis ook pure lekkerte op die tafel en lekker vinnig en maklik om te maak na ‘n lang en warm werksdag.
Die wind waai woes hier in Woodstock. Die Suidooster is deel van die Kaap, ja, maar hier by ons, voel ons sy woede soveel erger. Dis asof Tafelberg van die lastige keffertjie wat hier aan sy regter-skeen hap, wil ontslae raak en met bolwange blaas om hom die see in te jaag. Na drie dae en drie bangmaak-nagte lyk dit darem asof hy nou tot bedaring gekom het.
Kook en bak is harde werk. Dis vroeg opstaan, ure lank op jou voete en winter en somer tussen twee warm oonde vasgevang. Baiekeer, wanneer ek saans doodmoeg neerval, wonder ek of dit regtig die moeite werd is.
Dan is dit daardie gemmerkoekie-oomblikke wat my tevrede laat sug en in ‘n diepe slaap sink . . .
Die sneeu lê wit bo-op Tafelberg en die wind sny snerpend hier om my huisie wat onder teen die hange hurk. Dis dan wanneer ek die warmte van rooi soek – die helder uitdagende rooi van die halfmas-handskoene wat die vrou met die sagte, warm hart vir my gebrei het.
Sommige dae gaan dit maar rof hier in die Toorkombuis, veral wanneer ons vir ‘n groot bestelling moet bak of voorberei vir Saterdae se markte. Dan moet ek mooi dink wat ek vir ons vir middagete gaan voorsit – iets wat vinnig en maklik is, lekker vullend is en in almal se smaak val.
My Sondae was vir jare lank gekleur in skakerings van blou wat gewissel het van ‘n hemelse kleur op ‘n goeie dag tot ‘n donkerpers, byna swart, wanneer die Sondagsomberheid my nou behoorlik beet het.
Wanneer die wolke dreigend saampak, maar die reën wegbly en die drukkende hitte jou wil verswelg, is hierdie uielelie net die regte medisyne.
Haal diep asem. As jy ‘n bietjie te laat ingeskakel het en net die helfte van die resep gehoor het, kan jy sommer hier kyk. Maak die resep, neem ‘n foto daarvan en plaas dit op Radio Kansel se Facebook-blad.
Ek het nie eintlik ‘n soettand nie. Ek is ook nie regtig ‘n koek-en-tee mens nie. En oor poeding is ek min gepla.
Kleintyd het ek saam met maats in ‘n weikamp gespeel. My voet het aan ‘n stuk bloudraad, die onderste deel van die draadheining, vasgehaak en ek het myself wind-uit geval. Dit het ‘n goeie 52 jaar gelede gebeur, maar ek sal daardie gevoel nooit vergeet nie.