Die verhaal van ‘n swart gat en twee katte
Die skok en hartseer ná Cleo se dood was erg. Niks kon my voorberei op die groot, swart gat nie.
Sy was van die begin af ‘n ou kruppelkindjie, die mooiste ou dingetjie maar emosioneel so stukkend na al die mishandeling en ontbering voor sy by my beland het. Sy het soveel spesiale aandag en liefde nodig gehad. Ek het nooit besef hoe my hele lewe, elke uur van die dag, om haar gewentel het nie.
En toe sy weg is, was daar skielik niks. Ek het paniekaanvalle gekry wanneer ek saans kamer toe moes gaan. Cleo het nie meer in die hoekie op haar pienk kombersie voor die muurverwarmer gelê nie. Ek kon dit nie oor my hart kry om van haar goedjies ontslae te raak nie, maar alles was leweloos sonder haar. Haar pienk krappaal was ‘n stellasie van hout, mat en tou. Haar leë kosbakke het my nie meer verwyt nie. En in die hoek onder die spieëltafel het lemmetjiegroen klokballetjie ‘n belaglike stukkie plastiek geword.
‘n Week ná haar dood is ek veearts toe om die laaste van my skuld te betaal. Boonop was ek nog nie gereed om die band met George en sy mense daar in Aandbloemstraat te breek nie. Dis tog daar waar ek finaal van Cleo afskeid geneem het.
Net voor ek weg is soontoe, het ek die foto van die twee verlore katte op hul Facebook-blad gesien en ek het versigtig uitgevra. Dis te gou vir my, het ek vinnig gekeer toe die ontvangsdames op loop wil gaan met die storie.
Die katte het glo uit die niet verskyn en hul intrek geneem by ‘n vrou wat van oorsee gekom het vir ‘n gesigsontrimpeling en in ‘n gastehuis aangesterk het. Toe dit tyd word dat sy moet vertrek, het sy probeer uitvind wie die katte se eintlike base is en hulle toe ten einde raad by die veearts gaan afgee.
Die twee ontvangsdames kon nie wag om my die katte te gaan wys nie. Die ontmoeting was nou nie juis ‘n oomblik van betowering nie. Die werkers was besig om die hokke skoon te maak en die twee katte was erg gestres daar tussen die siek katte.
Ek is daar weg, maar die twee het by my bly spook. Die middag, terwyl ek en Maswazi besig is om te bak vir die mark die volgende oggend by The Palms, vertel ek hom van die katte en hoe ek hulle nie uit my kop kon kry nie. “Go and get them, Karen,”sê hy toe. Maar, protesteer ek, ons is so besig met die bakkery en ek is môre heeldag daar by The Palms agter my marktafel. “I will look after them,” belowe Maswazi.
Dis hoe die twee seunskinders toe by my beland het. Die strepieskat was duidelik nog baie baba, nog nie eens behoorlik ‘n jaar oud nie. Die effe ouer wit kat het ‘n goeie skoot Siamees in hom, met die mooiste ysblou oë en skakeringe goud en koper in sy pels geweef en silwer en swart strepies wat sy gesiggie omraam.
Sampie en Sagrys, het ek hulle onmiddellik naam gegee. Die strepies-baba was Sampie, en die wit kat was Sagrys. Sagrys is gou herdoop na Sjef Sagrys oor sy intense belangstelling in alles wat in die kombuis gebeur.
Daar was weer lewe in die huis. Niemand kan Cleo se plek in my hart inneem nie en ek sal nog lank oor haar rou, maar die twee seunskinders het weer kleur aan my lewe gegee. Seunskinders is so anders en juis daarom maklik om lief te kry sonder skuldgevoelens.
Iewers diep in my binneste het die onrus egter bly knaag. Vyf dae later was dit toe ook so. Die loskop aan wie die strepiesbaba behoort het, het eindelik besef haar kat loop nie maar net rond omdat dit paartyd is nie – hy is inderdaad weg. Ná drie weke!!
Hoe minder ek hieroor sê, hoe beter. Sy het hom kom haal, net om hom weer weg te gee. Hy moes die naweek na haar ma toe sodat hy daar saam met ‘n ander kattemaat die tuin in die plattelandse stilte kon geniet. Die veeaarts se mense het hul bes probeer om haar te oorreed om die kat liewers by my te laat. Maar die halsstarrigheid van ‘n dom mens . . .
Sy het toe boonop die vermetelheid om my te vra of ek haar ‘n guns sal doen en die kat nog twee dae langer by my hou. Sy en haar kêrel werk albei en kan nie na die kat kyk totdat hulle hom die naweek gaan aflaai nie. Met ‘n selfbeheersing waartoe ek nie geweet het ek in staat is nie, het ek vriendelik maar beslis geweier. Maar die stille woede wat in my aan die opbou was, was my redding. Ek was te kwaad om eens hartseer te voel.
Aanvanklik was ons almal bekommerd dat hy vir Sampie te veel sou mis, maar met die babakat weg en al die aandag op hom, het hy vir die eerste keer tot sy reg gekom. Met die gereelde maaltye en nie oral hoef kos te bedel nie, het die vreemde bonkigheid van sy lyf weggesmelt en die soepel lyne hom nog meer Siamees gemaak.
Toe eers kon ‘n mens sien hy is nie veel ouer as die maatjie wat hy so pas verloor het nie. Die stemmetjie is ook nog maar baie babatjie, met net so af en toe die Siamees wat in hom skree.
Ek moet mooi trap so tussen al die speelgoed deur en in die kombuis moet ek versigtig plek maak sodat Sjef Sagrys kan sit en kyk wat ek daar maak. Ons waak almal senuagtig by die deure en vensters want hy moet drie weke lank binne bly en eers die huis sy eie maak voordat hy buitentoe kan gaan.
Maar saans wanneer hy sy sagte lyfie in my nek kom lê, vou die warmte om my hart. Sagrysie, Sagrysie, Sagrysie . . .