Gemarineerde sampioene

Ek het grootgeword met geblikte aspersies en blikkiesampioene.En daai tyd was dit groot bederf. As jy ’n sampioen met jou vurk raakgesteek het in een van my ma se konkoksies, het jy gedink dis Krismis.
En dan was daar die aspersietert, maar daarvan het jy net ’n proeseltje gekry as daar ’n ietsie oorgebly het na die tee of vergadering waarvoor my ma dit gemaak het.

My ma het nie van teepartytjies gehou nie en sy het nooit, as sy dit kon verhelp het ’n vergadering bygewoon nie. Daardie kom uit my pa se skoolhoofdae. Toe was sy so half en half verplig om so af en toe ’n tee te gee of ’n ietsie vir my pa se vergaderings te maak.

Ek en my boetie en sussie het rondgehang en gewag op die oorskiet, want dit het so min gebeur dat my ma ’n ietsie bak. Sy het nie van kook of bak gehou nie, maar die kere wanneer sy wel iets gemaak en dit reggekry het om by die resep te hou, was dit nie te onaardig nie. aspersie

Ek het vir baie jare geglo dis hoe aspersies en sampioene smaak, so uit die blik uit. Ek kan nie presies onthou wanneer ek die eerste keer vars aspersies of sampioene geëet het nie – ek glo ek moes al op universiteit gewees het. Maar sedert daardie tyd kan ek nie genoeg van die regte, egte smaak kry nie.

Gedurende my laaste twee jaar op Stellenbosch het ek so tussen klasse deur as kelnerin in Zorba’s gewerk. Theo, die eienaar, het toe later die bekende Theo’s in Mouillepunt oopgemaak. Ons kon aan die einde van ons skof ’n bietjie slaai skep, van die warm broodrolletjies kry en, die lekkerste van alles, skep van Theo se sampioene wat in kruie en wyn gaargemaak is. So af en toe het hy ons jammer gekry en vir elkeen ’n klein stukkie steak gaargemaak.

Maar daardie sampioene… Kyk, as ’n Karookind jou sê jy kan maar die vleis los en net van die sampioene gee, dan moet jy weet – dis blêrrie lekker. Hierdie resep is nou nie Theo se sampioene nie, maar hierdie gemarineerde sampioene wat oor die kole gebraai is, sal ek enige tyd in die plek van ’n tjoppie eet. Of op ’n lekker burger in die plek van die maalvleispattie.

Genoeg vir 4 (as bykos).

Jy het nodig

2 eetlepels olyfolie
1 eetlepel fyngekapte vars tiemie
2 teelepels fyngerasperde suurlemoenskil
1 eetlepel varsuitgedrukte suurlemoensap
2 knoffeltoontjies, gekmeus en fyngekap
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
4 groot, plat bruin sampioene

Só maak mens

Kombineer die olyfolie, tiemie, suurlemoenskil en –sap, knoffel, sout en peper in ’n klein bakkie. Meng goed. PLaas die sampioene in ’n plastiekbak met ’n deksel en giet die marinade bo-oor. Maak die bak dig toe met die deksel en keer die hele bak ’n paar keer om sodat al die sampioene met die marinade bedek is.

Laat vir 20 minute in die yskas rus. Braai oor warm kole of op ’n riffelpan vir ongeveer 4 – 5 minute aan elke kant of tot alkant mooi geskroei en gaar.