Hoender-en-moutbier-bredie
Hierdie hoenderbredie met sy diep, ryk fluweelsous is trooskos op sy beste. Beter as enige Joodse mamma se hoendersop. Dis penisillien vir hart en siel.
Jy het nodig
3 eetlepels olyfolie
½ koppie koekmeelblom
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
8 hoenderstukke
2 middelslag uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, saadjies verwyder en fyngekap
4 aartappels, geskil en in kwarte gesny
2 selderystingels, in stukkies gekap
½ kopkool, fyngekap
3 groterige wortels, geskraap en in stukkies gekap
die gerasperde skil en sap van 1 lemoen
1 x 440 ml blikkie moutbier (Milk Stout/Guinness)
¾ koppie beesvleisaftreksel
3 eetlepels botter
3 eetlepels koekmeelblom
Só maak mens
Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol. Geur die meel met die sout en peper en rol die hoenderstukke een vir een daarin sodat dit alkant bedek is. Braai die hoenderstukke in die verhitte olie tot alkant goudbruin. Voeg die uie, knoffel en brandrissie by en braai saam voordat jy die res van die bestanddele, behalwe die laaste twee, byvoeg. Bring tot kookpunt, bedek die pot en plaas in ’n voorverhitte oond van 180⁰C en bak so bedek vir ongeveer 45 minute.
Haal die deksel af en bak vir nog 20 minute. Maak ’n pap van die botter en koekmeelblom en roer deur die bredie. Bring weer tot kookpunt op die stoofplaat en kook so onbedek vir nog 5 minute of totdat die sous mooi dik en die meel gaar is.
Ja, ek weet daar is aartappels in die pot, maar bedien dit gerus met rys sodat daai lekker sous nie verlore gaan nie. Of gebruik ’n lekker Franse brood om die sousies mee op te vee.