Sleep die pot nader
Ek is mos heeltemal bredie-bedinges. Winter en somer. Dis my trooskos. Elke keer wanneer die wêreld skeeloog na my kant toe kyk, sleep ek my groen ysterpot nader en skep ’n bredie wat die hart weer laat sing. Die Joodse mammas kan maar hul hoendersoppies hou – my bredies is ’n penisillien wat hart en lyf heel.
’n Bredie word met sorg gekook, laag op laag gebou. Dis nie, soos baie mense glo, ’n pot waarin jy al jou oorskietkos van die week bymekaar moer nie. Jy kan nie maar net na jou yskas toe loop en alles waarop jy jou hand kan lê, in een pot dwing nie. Nee, jy moet mooi dink – dis byna soos om ’n tafelplan by ’n onthaal uit te werk. Jy sit mense saam wat saam hoort en foeter nie ’n skoorsoeker net vir die grap by nie. My bredie prut baie lank eers in my kop voordat ek eindelik die harmonie van geure in my pot byeenbring.
En hier op die heilige Sondag, op ’n dag wat vra na koue vleise, slaai en alles wat afkoel en verkwik, hunker ek na ’n hoender-en-groentebredie in ’n dik en donker sous. Ek wil voel hoe die bredie my toevou in sy omhelsing, my koester soos ’n ou vriendskap…
Een van my pa se beste vriende, bel nou nog – vyftien jaar ná my pa se dood – op sy verjaardag. Net om te sê hy dink nog aan ons. En hoeveel hy my pa mis.
Hull was vier maats, my pa, Tokkels, Frikkie en John wat op agt jaar saam in ’n junior klas by Oranje meisieskool in Bloemfontein beland het. Van die jonger klasse het seuntjies ook opgeneem omdat Grey-kollege destyds nie toegerus was om seuns op so ’n jong ouderdom te akkommodeer nie.
Hulle het uit verskillende wêrelde gekom. Tokkels en John was van die Bloemfontein-adel. Die Versters en Krauses was gerekende mense. Frikkie het later miljoenêr geword. My oupa Adam en ouma Drienie was huisouers by ’n ouetehuis en dis waar my pa grootgeword het. Maar daar in die destydse standerd een-klas, waar hulle die meisietjies geterroriseer het, is ’n lewenslange vriendskap gesmee.
Frikkie was die eerste om te gaan. Ek onthou nog my pa se verskriklike hartseer, veral omdat hy die aand voor sy selfmoord nog met hom probeer praat het. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek vir my pa ’n bos rose gaan koop het – ek het nie die woorde gehad om te troos nie. Baie jare later, op my pa se begrafnis, het ek nie rose of woorde gehad vir oom Tokkels en oom John nie. Ek was te toegevou in my eie hartseer.
Vir my was die ongelooflikste van my pa se vriende dat hulle my kleintyd al soos ’n grootmens behandel het, met my gesels het asof ek op hulle vlak was. Wanneer hulle kom kuier het, het hulle met my gepraat oor die boeke wat ek lees, my met diep filosofiese gesprekke gedwing om te dink oor die lewe en wat ek daarvan verwag. Ek dink dis een van die redes waarom ek as volwassene nog altyd tot ouer mans aangetrokke gevoel het.
En waarskynlik is dit ook die rede waarom ek langer aan vriendskappe klou as wat ek moet. Soms moet ’n mens eerlik met jouself wees en besef al jou pogings om ’n vriendskap van byna dertig jaar kunsmatig aan die lewe te hou, het gefaal.
Dis dan wanneer ek op ’n hittige somersdag die groen ysterpot nader trek…