‘n Koeligheidjie vir Kersfees

Hier aan die suidpunt van Afrika bly ons hoogsomer nog foeter met die verlange na ‘n wit Kersfees. Dis steeds die Kersvader in sy rooi fluweel Kerspak met die versmorende pelskragie, ‘n sneeuslee met rendiere uit die Noordpool. Ons kyk met verwondering na resepte van gestoomde Kerspoedings, geroosterde kalkoene en Kerskosse vir die winterwit van daar ver.

In my hart leef die Kersvader van Helena J. F. Lochner. Ek het kleintyd haar stories verslind. My gunsteling was die ene van Kersvader wat sy slee hier onder ‘n bos kom trek sodat hy die pad verder kan vat in ‘n Afrika-tuig, kompleet met ‘n strooisambreel. Terwyl sy rendiere in die koelte rus, neem ‘n spannetjie springbokke hul plek in. Vader Krismis ruil sy winterpak vir ‘n helderoranje safaripak.

Want Kersfees was vir my seevakansie – warmgebakte wit strande en blou, blou branders. Die paar reëndae wat ons dikbek in die huis moes bly, was net genoeg om ons weer met oorgawe in die branders in te jaag met die eerste teken van son. Ek sou graag hierdie Bothatjies se bekke wou sien as die strande wit van die sneeu gelê het!

En hierdie Kersfees was my Kersvader in sy oranje safaripak my inspirasie vir my krismispoeding – ‘n lekker tropiese roomys. Jy het nie ‘n roomysmasjien nodig nie. Dis baie, baie eenvoudig.

Tropiese roomysgenot

2 byna oorryp middelslag pynappels
‘n halwe spanspek
1 nektarien
1 perske
sap en gerasperde skil van een lemoen
sap en skil van 2 suurlemoene
2¼ koppies suiker
1 koppie water
2 koppies room
¼ koppie Amaroelalikeur

Versap die pynappel, spanspek, nektarien en perske en vul aan met die vars lemoensap sodat jy altesaam 4 koppies vrugtesap het. Plaas die sap saam met die lemoen- en suurlemoenskil, suiker en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Laat vir 5 minute kook. Haal van die stoofplaat af en roer die suurlemoensap by. Laat staan om af te koel tot kamertemperatuur en plaas in die vrieskas vir ongeveer ‘n uur totdat dit begin vries. Klits die room styf en klits die amaroela by. Vou in die verkilde vrugtestroop en meng goed. Plaas in die vrieskas en vries tot heeltemal gestol, verkieslik oornag.