‘n Spesiale ontmoeting
Ek het hulle ook by die mark leer ken. Soms op ‘n Saterdag het hulle lekker informeel daar kom rondslenter, twee manne in hul middeljare –
die een ‘n groot grys teddiebeer en die ander effe eksentriek met sy stuk of sewe oorringe in elke oor. Hulle wou van my weet of ek op bestelling ook bak en het lank voor die tyd afspraak gemaak.
Toe ons nou eers tyd het om lekker om die tafel te sit en gesels, kom ek agter dis manne wat fyn oplet en diep kyk. Hulle vang my onkant met vrae oor dinge wat jarelange vriende of familie nie eens raaksien het nie – nie indringervrae nie, net opregte belanstelling.
Ek bak toe ‘n paar keer vir hulle – eers vir hul priester se tagtigste verjaardag en toe vir die teepartytjie ter fondsinsameling van hul kerk. Ek is versigtig om te veel uit te vra en toe hulle my nooi na hul kerk se musiekdiens, weet ek nie eintlik wat om te verwag nie.
Dis die klipkerk so skuins agter die ou vuurhoutjiefabriek waarvan ‘n deel nou ook teaterskooltjie geword het. En op die ander hoek sit Queen of Tarts. Dis ‘n vreemde gemeente – gevoed uit die universiteitsgemeenskap maar met eweveel lidmate uit die geledere van die jarelange Obs-inwoners.
Met die instap al het die ding my gevang. Die binnekant kon net sowel ‘n gekondenseerde weergawe van die St Georges-katedraal gewees het. (En dis glo ook deur Sir Herbert Baker ontwerp.)
En ek het onthou van die dag toe ek as jong tiener alleen met die trein ingery het stad toe om inkopies te doen en vir my pa in sy kantoor te kuier. Toe ek verby die St Georges-katedraal stap, het ‘n oop deur my soos ‘n magneet getrek. En voor ek my kom kry, staan ek daar in die allerheiligste voor die altaar. Net ek alleen in die grote katedraal met die klip en hout en mooiste gebrandskilderde vensters . . . en die heilige stilte.
Ek het eers weer van die werklikheid bewus geword toe iemand op die orrel begin speel. Eers later het ek uitgevind dat dit waarskynlik Barry Smith was wat daar geoefen het. En wat ‘n wonderlike ontwaking!
En toe ek by daardie klipkerk instap, kon ek net sowel weer stoksielalleen daar in die grote katedraal gestaan het. Die mense om my het vervaag. Dit was asof die blomme, kerse en wierook net vir my was.
Ek het my verkyk aan die priesterlike optog van wit en goud, wierook en kruise. En aan die voorpunt het my vriend met die oorringe geloop – die priester van die gemeente. Kort op sy hakke was my teddiebeer-vriend, sy regterhand.
Die musiek, ‘n Mozart-mis, was verweef met die diens. My hart was oop en rou, van alle verweer gestroop. Ek het nie eens probeer om die trane wat warm langs my gesig afgeloop het, te keer nie. En ek het die betowering van daardie anderhalfuur diep in my hart gebêre – soos daardie alleen-wees voor die altaar in die grote St Georges-katedraal, byna veertig jaar gelede.