Romany creams – my resep

My Romany Creams is pure betowering. Ek deel graag die resep – dis my nalatenskap. Maar wees gewaarsku: die gebruik van hierdie resep kom met ‘n voorwaarde en verantwoordelikheid.

Moenie eens daaraan dink om margarien in plaas van botter te gebruik nie. Dis botter of niks. Botter in sy geile oordaad. Vanielje-EKSTRAK, nie daardie chemiese brousel op die winkelrakke nie. En regte sjokolade – ek gebruik Lindt. Goeie kakao . . . net so terloops, die Chocolate Studio by die ou Cape Quarter in De Waterkant , voer nou die Lindt kakaopoeier in. (En dis goedkoper as die plaaslike een wat as die begin en einde voorgehou word.)

Lewer 36 dubbelkoekies

½ koppie sjokoladepoeier (die soort waarmee jy warm sjokoladedrankies aanmaak)
½ koppie kakao
¼ koppie kookwater
375 g sagte botter
1¾ koppies strooisuiker
2¼ koppies koekmeelblom
2 teelepels bakpoeier
½ teelepel sout
1 teelepel vanielje-ekstrak
2¾ koppie klapper
Vir die vulsel
2 x 100 g blokke sjokolade in stukkies gebreek
100 g botter

Meng die sjokoladepoeier en kakao met die kookwater tot ‘n pulp. Laat eenkant om af te koel. Klits die botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout in ‘n afsonderlike bak saam en voeg by die botter-suikermengsel saam met die sjokoladepoeier-en-kakaomengsel. Voeg die vanielje-ekstrak by en roer saam met die klapper by. Meng goed. Gebruik ‘n teelepel en skep in hopies ‘n paar sentimeter van mekaar af op ‘n bakplaat. Bak vir 13 minute in ‘n voorverhitte oond van 180ºC. Laat die koekies 5 minute lank op die bakplaat staan en afkoel voordat jy dit op’n draadrak uitpak om heeltemal af te koel. Smelt die botter en sjokolade in ‘n dubbelkastrol of in ‘n hittebestande glasbak oor ‘n kastrol met pruttende water. Laat die mengsel effens afkoel vordat jy dit aan die onderkant van ‘n koekie smeer en ‘n toebroodjie maak met die onderkant van nog ‘n koekie. Herhaal tot jy al die koekies met die sjokolademengsel getoebroodjie het. Laat staan sodat die sjokolade kan set.