’n Slaai wat sin maak
Vir hierdie Karookind moet ’n slaai werlik verleidelik wees om my van die vleispotte weg te lok. En vir my eie tafel maak ek selde ’n slaai net omdat dit volgens voorskrifte en gesondheidsreëls daar hoort. Dit moet ’n lekker kuierbord wees wat die smaakbekertjies behoorlik aan die gang kry. Hierdie een is my groot gunsteling – ek maak dit tot vervelens toe, maar gelukkig het my vriende en familie nog nie begin kla nie. Dis die soort slaai waarvoor jy nooit moeg word nie. Jy maak dit op ’n groot plat bak en sorg dat daar lekker varsgebakte saadbrood om daarmee saam te geniet.
Jy het nodig (vir vier)
1 pak gemengde blare
2 groenappels in dun skyfies gesny
’n handvol uitgedopte pimperneute, gerooster
1 x 125g wig Brie-kaas, teen kamertemperatuur, in skywe gesny
Vir die vinaigrette (meng saam)
⅓ koppie avokado-olie (ek gebruik die suurlemoengegeurde een – dit gee net daardie tikkie ekstra)
⅓ koppie suiwer appelsap
3 eetlepels wit balsamiese asyn
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Só maak mens
Giet die helfte van die slaaisous oor die blare en meng goed. Gebruik jou hande – dis die heel beste. Rangskik nou die appel, pimperneute en kaas mooi bo-op. Bedien die met die res van die slaaisous eenkant in ’n mooi houertjie.