Prettige braaihoender-in-die-oond
Wanneer laas het jy sommer net iets vir die lekker gedoen? Sommer net vir die pret? Daardie selfde lekkerte ervaar as wanneer jy diep uit jou maag uit lag . . . sommer oor niks. ‘n Mens raak so vasgevang in ‘n oorlewingstryd – want dis wat dit deesdae is om te sorg dat daar genoeg kos op die tafel en jou mense versorg is. En jy vergeet van die lag en die lekker, om sommer net pret te hê.
Ek het nooit kinders gehad nie en was langer losloper as die drie kort tussenposes wat ek getroud was. Maar nóú leer ek wat dit is om te moet sorg. Ek het ‘n man van die straat af onder my vlerk geneem en ek het ma geword vir my tagtigjarige ma. Dis oor hulle wat ek my bekommer, ja, maar dis ook hulle wat my geleer het om weer na die ligter sy van die lewe te kyk.
Een oggend, toe ek weer my ma se ontbytskinkbord voor haar neersit, kyk sy my met ‘n vonkel in die oog aan en vra: “Gaan dit baie erg wees as ek jou vra of ek eerder van jou tuisgemaakte roomys in plaas van jogurt op my vrugteslaai kan kry?” Ek het haar ‘n oomblik lank verstom aangekyk en toe uitgebars van die lag. Van toe af is dit nou ‘n instelling – roomys saam met haar vrugteslaai vir ontbyt. (En voor die dieëtkundiges en ander alwetendes my kruisig – sy ly nie aan diabetes nie. Ek reken op tagtig kan jy darem self besluit wat jy wil hê!)
En, nog lekkerder as roomys vir ontbyt, is om sommer in die middel van die week te besluit – vandag eet ons braaihoender. Dis nie altyd so maklik nie – ek het nog altyd op plekke gewoon waar dit ‘n uitdaging is om te braai. Eers was dit in woonstelle, deesdae is dit die Woodstock-wind met sy onvoorspelbaaheid wat maak dat jy nie sommer braaivleisvure aansteek nie. Dis dié dat ek geleer het om sommer die oond in te span as die braailus my oorval.
County Fair braaihoender-in-die-oond
Genoeg vir 4
Vir die braaisous (Sien Wenk)
1½ koppies asyn
1½ koppies olie
2 eetlepels Worcestershiresous
6 eetlepels peri-peri-sous
2 teelepels Tabascosous
½ koppie gerasperde uie
2 teelepels paprika
4 eetlepels tamatiesous
1 teelepel mosterdpoeier
2 teelepels sout
4 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekapVir die hoender
8 County Fair hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
‘n handvol vars gekapte pietersielie
Meng al die bestanddele vir die sous en giet in ‘n glasfles met ‘n skroefdeksel wat dig seël. Plaas die hoenderstukke in ‘n glasbak en giet net genoeg van die sous oor die hoender om dit te bedek. Gebruik jou hande en smeer dit oor elke stukkie sodat dit oral oor met die sous bedek is. Bêre die res van die sous in die yskas vir anderdag. (Sien Wenk.) Bedek die bak met kleefplastiek, plaas in die yskas en laat staan vir ongeveer 2 uur. Pak die hoenderstukke op die draadrak van ‘n oondroosterpan, geur met sout en peper en bak in ‘n voorverhitte oond van 200° vir 40 – 45 minute. Stel die oondrooster op maksimum temperatuur en rooster die hoender vir 5 minute totdat die vel begin blasies maak en plek-plek donker verkleur. Hou maar goed dop – die hoender kan binne ‘n oogwink verbrand, nog vinniger as op die vuur. Haal die hoender uit die oond en laat vir 5 minute rus voordat jy dit op ‘n bord uitskerp om op te dien. Sprinkel die pietersiele oor en bedien met ‘n lekker slaai en knoffelbroodjies.
WENK: Hierdie braaisous werk net so lekker wanneer jy die hoender oor die kole braai. Dit sal minstens 2 weke lank in die yskas hou en jy kan dit na hartelus gebruik.