Toor met klapper en sjokolade
Romany Creams het my lewe oorgeneem. Wanneer jy in die oprit voor my huis in Rhodes se laan intrek, ruik jy dit al – die soet van suiwer kakao, klapper en gesmelte Lindtsjokolade.
Baie oggende staan ek vieruur reeds voor die stoof en bak. Dikwels is ek laataand nog besig om die molshopies in sjokolade te doop. Die liewe Zuki is kind-op-die-rug skaars terug van kraamverlof, ook aan die bak. En vir Maswazi, my aanneemkind-van-die-straat af, is Romany Creams bak al soos asemhaal.
Toe die fraaie Lisa my nou die dag sê sy het al 1921 pakkies verkoop, was ek nie eens te verbaas nie. Dis 1921 pakkies van 10 elk — vyfduisend Romany Creams — sedert sy haar nuwerwetse tuisnywerheid, Molly & Mason, in Steenberg Village inkopiesentrum middel September in 2013 geopen het. Net in die winkeltjie.
Ek praat nie eens van dié wat ek vir die mark by The Palms elke Saterdag bak nie, ook nie van die 300 pakkies van 10 wat ek nou elke maand vir Roots Lifestyle in Robertson se hoofstraat lewer of die etlike indviduele bestellings nie.
My Romany Cream-reis het vroeg in Maart van 2013 begin. Ek het ‘n paar dae by my ma gaan oorbly toe ek by die Proe Mosselbaaifees opgetree het. Sy neem my toe een middag vir ete na ‘n restaurantjie in Grootbrakrivier. Met die betaalslag by die toonbank sien ek die pakkie Romany Creams raak en koop dit as ‘n spesiale bederfie vir my ma. Waarom weet ek tot vandag toe nie, want nie een van ons twee is vreeslik lief vir soet nie.
Met die proeslag het ek onmiddellik geweet – ek gaan nie rus voordat ek hierdie resep oortref en my eie vervolmaak het nie. Dit was nie maklik nie. Daardie Grootbrak Romany Creams was ‘n belewenis. Na etlike probeerslae is ek toe eindelik mark toe met myne. Dit was die begin van die einde.
Natuurlik is dit lekker om te weet dis die een produk wat elke keer uitverkoop. Maar wat my die meeste tevredenheid gee, is om te sien hoe grootmense en kinders die koekie daar voor my proe, daardie skielike mengsel van skok en verrukking op hul gesigte. En ek geniet dit om te sien hoe Maswazi hom verkneuter in dié reaksie.
Aanvanklik was ek half geamuseerd en het die “verskynsel” so half op ‘n afstand gade geslaan. By die mark het ek gretig geluister na stories van mense wat weer en weer terugkom en ander saambring om in die genot te deel. “Dis jou skuld,”het die een vrou gemaak-dreigend voor my kom staan. “Hoe dan nou?” wou ek laggend weet. “Ek kan nou nie eens meer na ‘n ander Romany Cream kýk nie! Nie ná ek joune geproe het nie.”
Lisa kry vreeslik lekker om my te vertel van haar klante wat tot uit Durbanville en Stellenbosch Tokai toe ry agter my Romany Creams aan. Sy vertel met groot drama hoe van die “verslaafdes” na die rakke toe sluip en tot drie pakkies agter hul rug wegsteek in die hoop om so half ongemerk by die toonbank te kan betaal voordat iemand hul vergryp raaksien.
Die hele verskynsel het my laat glimlag, ja, maar ook ietwat verwonderd gelaat. Hier in my Toorkombuis glo ek aan daardie geheime bestanddeel, die betowering geskep uit die liefde en passie waarmee elke koekie gemaak word.
Die een Saterdag by die mark kom staan daar ‘n man en sy vrou voor my tafel ,kyk net so na die groot silwer bak vol Romany Creams endie lug waarderend. Ek nooi hulle om te proe, maar hulle skud net kop. Eers gaan ontbyt eet, sê hulle, dan kom hulle terug om te koop. Hulle geniet net eers die wonderlike sjokoladegeur.
En toe kyk die man my vas in die oë en vra: “Glo jy dat jy dit wat jy voel oordra in jou produk wanneer jy bak?” Ek het hom so half ongelowig aangekyk en verduidelik dis waaroor Toorkombuis juis gaan – dis my lewensfilosofie, dis hoe ek my kombuis bedryf.
Hy kom toe met hierdie lang verduideliking, heel wetenskaplik, van water wat ‘n geheue het en 85% van die mens se liggaam is water. “Kwantum-fisika,”verduidelik hy. “Ek noem dit sommer betowering,”lag ek.
Hulle het toe later teruggekom om Romany Creams te koop. Ek en sy vrou het ook lank en lekker gesels, resepte uitgeruil, maar dis sy woorde wat by my bly spook het. Miskien omdat hulle oor my pad gekom het in ‘n tyd toe ek net weer intens bewus geword het van die onverklaarbare en die ongelooflike rol wat dit in my lewe speel.
Die volgende Saterdag was dit maar ‘n stillerige mark en een van die gereelde markmanne kom staan daar by my tafel en gesels. Hy beduie toe so na die stapeltjie Romany Creams en sê so ewe ongeërg en half terloops: “I’m sure they used to bake it here.”
Ek voel hoe rol die ysblokkies langs my ruggraat af en daardie aand gaan google ek die geskiedenis van The Palms. Nog koue rillings . . . Dit is toe so — hulle hét Romany Creams hier gebak.
‘n Ene William Baumann het vroeg in die vorige eeu die gebou hier ingerig het as een van Kaapstad se eerste groot bakkerye – aan die een kant het hy Baumann’s Biscuits gehuisves (en waarskynlik hier begin Romany Creams bak) en aan die ander kant Duens brood. Ná die Tweede Wêreldoorlog is die naam na Baker’s Biscuits verander om te oorleef in ‘n tyd van sterk anti-Duitse gevoelens.
Dit verklaar toe vir my baie dinge. Die ongewone, byna bonatuurlike belangstelling in my Romany Creams. En ook die ongelooflike, byna religieuse ervaring wanneer ek elke Saterdag daar by my tafel staan en opkyk na die koepels van lig en die hoekie van Tafelberg daar in die dakvensters.
Maar, getrou aan my aard, is dit ook nie waar my verbeelding dit gelaat het nie. Met my huisie hier in Rhodes se laan, skaars ‘n paar straatblokke ver van The Palms, was een van die bakkers wat desjare daar gewerk het dalk ‘n buurman of . . . die eienaar of ‘n inwoner van Rhodeslaan 10.
Daar waar jy die Romany Creams al in die oprit kan ruik.