Varsgebakte brood

Min dinge kom by die geur van varsgebakte brood, maar nie almal sien kans vir ‘n geknie nie. Hierdie resep is so maklik – jy roer net die bestanddele by mekaar en laat staan vir ‘n halfuur.

Die resep lewer twee brode.

Jy het nodig

2 eetlepels olyfolie (en ’n bietjie ekstra vir die panne se smeer)
5 koppies witbroodmeel (Ek gebruik Eureka Mills se stoneground – dis ongelooflik!)
2 koppies koekmeelblom (ook van Eureka Mills)
1½ teelepels sout
1 sakkie (10g) kitssuurdeeg
850 ml warm water (net so ’n rapsie hittiger as louwarm)

Só maak mens

Smeer 2 broodpanne van ongeveer 20 cm met olyfolie. Meng die mele, sout en suurdeeg in ’n groterige bak en maak ’n holte in die middel met ’n lepel. Gooi die water en die twee eetlepels olyfolie in die holte en meng met die meelmengsel.

Die deeg is soos ’n baie dik pap. Verdeel die mengsel tussen die twee pannetjies. Bedek met gesmeerde kleefplastiek en laat dit vir 30 minute op ’n warm plek staan totdat dit dubbel die grootte gerys het. Dit rys ongelooflik vinnig. Verhit die oond tot 200˚C. Bak die brood vir 40 minute of tot goudbruin en mooi uitgerys.

Haal dit uit die pannetjie en plaas net so op die oondrak en bak vir nog ’n verdere 5 – 7 minute om die korsie lekker bros en krakerig te maak. Laat die brood behoorlik afkoel voordat jy dit sny (Selfbeheersing, suster!).

Die brood hou maklik twee tot drie dae – as dit nie onmiddellik opgeëet word nie! En ’n maand lank in die vrieskas. Ek het ook al volkoringmeel in plaas van die witbroodmeel gebruik – net so lekker!